News

Agt marathonne in net agt dae

Dit is wat die veteraanhardloper Christo van der Berg aandurf om saam met Solidariteit Helpende Hand bejaardes te help.

 

Van der Berg het die afgelope naweek op Saterdag 1 Oktober in die klein Wes-Kaapse dorpie Ashton wegspring
en as alles volgens plan verloop sal hy die uitdaging voltooi op Saterdag 8 Oktober in Clanwilliam langs die
Olifantsrivier.

Hy pak dié agt marathonne in agt dae, sowat 360 km, man-alleen aan.

Hierdie is nie die eerste keer wat Van der Berg só ʼn massiewe uitdaging aanpak nie. Ná ʼn
lang herstelproses weens ernstige beserings aan albei sy knieë, het hy in 2021 die Suid-
Afrikaanse ekwivalent van die Spaanse Camino de Santiago onder die vaandel van Run for
Hope aangedurf.

Hy het toe ook agt marathonne in agt dae voltooi om Solidariteit Helpende
Hand te bemagtig om daagliks meer as 8 000 hulpbehoewende kleuters te help voed. Sy
roete was van Stellenbosch tot aan die suidpunt van Afrika by Kaap Agulhas. Run for Hope
het toe R77 000 insamel.

Vanjaar doen hy Run for Hope ten bate van bejaardes, en die roete lyk heelwat anders as in
2021. Dit strek oor nege bergpasse. Eerstens is daar die Kogmanskloofpas met sy ou
Engelse fort wat dateer uit die Anglo-Boereoorlog. Daarna volg die Burgerspas, Arangieskop
en Rooihoogtepas in die Koo. Die Vensterpas op die R46 is vyfde en daarna die
Swaarmoedpas wat verby die Matroosberge en Klondyke Kersieplaas loop. Die Gydopas net
buite Prins Alfred Hamlet is nommer sewe en eindig by Op-die-Berg. Dan verbind die
Blinkbergpas vir Op-die-Berg met Matjiesrivier in die Cederberge. Die laaste en negende
pas is Uitkykpas van die Cederberge na Clanwilliam.

“Ons het besluit op die nuwe roete omdat ek nogal kompeterend is – nie noodwendig
teenoor ander mense nie, maar met myself,” sê hy.
Volgens van der Berg is die grootste verskil tussen 2021 en 2022 se Run for Hope
voorbereiding vir die onbekende.

“Voorbereiding vir die onbekende is my top prioriteit. Ek het my eerste ultramarathon, 53km,
in Mei 2021 gedoen. My afrigter het my oefenprogram bietjie aangepas om by my hoër
fiksheidvlak in te pas en so het ek langer afstande begin hardloop,” sê hy.
Om 360 km in agt dae te draf, is nie vir almal beskore nie en daarom deel Van der Berg die
volgende wenk: “Ek dink nie aan die ‘what if’s’ nie. As kind is ek nie grootgemaak met ʼn
ontsnaproete nie. As jy iets aanpak, maak jy dit klaar. Ek glo en vertrou dat my
voorbereiding reg is. Al wat ek elke dag doen, is om by die reëls te hou en vorentoe te kyk.”

Hierdie pelgrimstog is nie net vir Van der Berg ʼn persoonlike uitdaging nie, maar bejaardes
se welstand lê hom ook baie na aan die hart.
“Ons weet nie altyd watter uitdagings die mense om ons beleef nie. Weerlose bejaardes kan
nie vir hulself baklei nie, en sommiges sit in kamertjies en vereensaam. Ek gebruik my
pelgrimstog om blootstelling te gee aan Helpende Hand se missie om na ons bejaardes om
te sien,” sê hy.

Belangstellendes kan www.runforhope.co.za besoek om die pelgrimstog te borg of om ʼn
bydrae te maak tot Helpende Hand. Of stuur ʼn e-pos aan runforhope@helpendehand.co.za.
Solidariteit Helpende Hand is ʼn geregistreerde niewinsgewende organisasie.

Related Articles

Back to top button