News

VVA: “Ons is nie net ’n koskombuis nie”

Ons lewer ‘n volledige diens in die gemeenskap en poog om ‘n verskil in mense se lewens te maak

Vrystaat Versorging in Aksie het verlede week met ‘n ontbytgeleentheid dankie gesê aan al sy vrywilligers en donateurs wat die werk van hierdie organisasie in die gemeenskap moontlik maak.
In sy boodskap het VVA-voorsitter, André Wesseloo, gesê dat mense dikwels die verkeerde persepsie het van wat die VVA doen.
“Ons is nie ‘n koskombuis nie. Ons gee nie net kos en klere aan mense nie. Ons lewer ‘n volledige diens in die gemeenskap en poog om ‘n verskil in mense se lewens te maak,” het hy gesê.
Wesseloo het vertel hoe die Covid-19 pandemie ook die VVA en sy werksaamhede geraak het, en hoe planne gemaak is om by veranderende tye aan te pas. “Ons moes herbesin oor wat ons kan, en wat ons nie kan doen nie.”
Hy het verwys na subsidies van die staat wat al kleiner word, en die belangrikheid van borge wat help met kos en klere om die nood te verlig in die VVA se bedieningsarea.
Die afgelope jaar alleen is 1 633 kospakkies uitgedeel aan volwasse persone, en 1046 pakkies vir kinders. Met die sopkombuis is 3 228 mense bereik. Altesaam 1 587 mense is met klere gehelp, van wie 175 kinders was.
Benewens hierdie dienste is sub-ekonomiese behuising aan bejaardes bo 60 wat geen ander inkomste as ‘n Sassa-pensioen het nie, by die VVA se Danie Fourie en Hanlu-woonstelle gebied.
Die Lerato pleeghuis in Tumahole was die afgelope jaar ‘n uitkoms vir baie kinders sonder ‘n heenkome.
Verskeie projekte is aangepak, waaronder broodjiedag waarmee vir 250 huishoudings brood uitgedeel is. ‘n Groot donasie van skoolskoene is by drie verskillende skole versprei. Daar is in samewerking met die Gereformeerde Kerk Parys kleinkoekies versprei onder behoeftige pensioenarisse en as deel van die kospakkies wat vir behoeftige kinders by die laerskool gegee is.
Daar is bewusmaking gedoen oor die gevare van middelafhanklikheid en boeliegedrag onder skoolkinders.
Met ‘n verlies van R41 725, 47 vir die 2021/2022 boekjaar, het Wesseloo in sy jaarverslag gesê dat in die komende boekjaar ernstig gekyk sal moet word na hoe die VVA sy boeke kan laat klop, en steeds ‘n diens van gehalte kan lewer.
Die afgelope boekjaar was daar talle fondsinsamelingsprojekte waaronder die baie suksesvolle blokkies/donasievorm wat saam met kleuterskole aangepak is, die baie suksesvolle boete, betaal of boei-projek, kosverkope en ‘n gholfdag – alles maniere waarmee die VVA personeel en vrywilligers met die goedhartigheid van die publiek en borge gewoeker het om fondse te in om hulle in nood te kan help.
Maar selfs meer belangrik as die kos en klere wat vir hulle in nood voorsien is, is die 7 335 mense wat deur die VVA bereik is met maatskaplike dienste. Hieronder tel 832 kinders waarvan 482 aktiewe pleegsorg lêers waar deurlopend nog opvolge van elke geval gedoen moet word (35 van die getal is plasings wat vanjaar gedoen is), 22 gevalle van molestering wat hanteer moes word en 35 gevalle van gesinsgeweld. Daar is ook 148 kinders gehelp wat met alkohol- en dwelmverwante probleme sukkel. ’n Organisasie wat inderdaad meer doen as om net kos en klere te voorsien aan hulle in nood.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button