News

Kommer oor hof se instandhouding duur al maande

Ten minste drie vooraanstaande regsfirmas in Potchefstroom het kapsie gemaak rakende die toestand van die hof

Die beweerde gebrekkige instandhouding van die Potchefstroom Landdroshof se infrastruktuur is al telkemale aan die direkteur-generaal direkteur-generaal (DG) van justisie, adv. Doctor Mashabane sowel as die minister van justisie, Ronald Lamola, se aandag gebring sonder enige oplossings.

‘n Gedeelte van die dak van die landdroshof het gistermiddag (Maandag, 19 September), inmekaar gesak glo weens gebrekkige instandhouding. Die plafon is ook glo ‘n jaar al stukkend waar die dak by die kontantstoor inmekaar gestort het. Niemand was in die gebou tydens die vooral nie.

Die gesloer met infrastruktuur word ook glo met intimidasie teen die aangewese kontrakteur vir die instandhouding, gekoppel.

Fanie du Toit ‘n Vryheidsfront Plus LP wat dien in die Nasionale Raad van Provinsies het aan die minister van justisie ‘n brief op 18 Maart aangestuur oor die toestand van howe in Noordwes.   Hy het terugvoer op 23 Mei ontvang, waar die minister noem dat die siviele distrikshowe funksioneel en ten volle beman is

“Die howe is in werking en word in die kinderhofsaal en Raadsaal gehou,” het Lamola in die brief gesê.

Volgens Vryheidsfront Plus raadslid in JB Marks en plaaslike prokureur, Marlene Steyn Du Toit, is dit glad nie funksioneel nie omdat die Kinderhof, Siviele Hof, Onderhoudshof, en Gesinsgeweldhof tans gebruik maak van dieselfde geriewe.

“Afhangend van prioriteit en dringendheid het ons dus in sekere gevalle geen keuse as om sake uit te stel nie,  aangesien al die sake nie gelyktydig aangehoor kan word nie,” vertel sy.

Steyn Du Toit noem ook dat die spasie en uitleg van die kinderhof en raadsaal nie toepaslik vir sake is waar kruisondervraging plaasvind nie.

Ten minste drie vooraanstaande regsfirmas in Potchefstroom het ook aan die VF Plus bevestig dat hulle skriftelik kapsie gemaak het by die direkteur-generaal (DG) van justisie.

Die Departement van Justisie se woordvoerder, Steve Mahlangu, het in ‘n mediaverklaring genoem dat die omvang van die skade eers deur die Departement van Openbare Werke geasseseer sal word voordat die hof vir die publiek oopgemaak sal word.

“Die Departement sal, na ontvangs van die assesseringsverslag van die Departement Openbare Werke, ‘n bepaling maak op ‘n datum wanneer die gebou heropen kan word. Verdere aankondigings oor die gebeurlikheidsplanne sal mettertyd gemaak word na verdere betrokkenheid van belanghebbendes. Die departement vra die publiek om verskoning vir die ongerief wat veroorsaak is,” staaf Mahlangu

Related Articles

Back to top button