News

Talle siek met naarheid en diarree – mense in buurdorpe ook siek

Verskeie dokters en apteke, sowel as die Parys Distriks-hospitaal se ongevalle-eenheid het bevestig dat ‘n toename in pasiënte met diarree en naarheid al die afgelope drie weke gesien word. Sommige van wie selfs gehospitaliseer is. By die hospitaal se ongevalle-afdeling alleen is 88 pasiënte met die simptome gesien. Dit was ook nie net inwoners nie, …

Verskeie dokters en apteke, sowel as die Parys Distriks-hospitaal se ongevalle-eenheid het bevestig dat ‘n toename in pasiënte met diarree en naarheid al die afgelope drie weke gesien word. Sommige van wie selfs gehospitaliseer is.
By die hospitaal se ongevalle-afdeling alleen is 88 pasiënte met die simptome gesien.
Dit was ook nie net inwoners nie, maar selfs besoekers aan die dorp wat medikasie vir naarheid en diarree nodig gehad het.
Meeste van die pasiënte wat gesien is was gemiddeld drie dae baie siek en sommige ook by herhaling. Ander was selfs vir ‘n week en langer siek. Naas naarheid en diarree het mense wat siek geword het, ook gekla van lyfseer en hoofpyn.
Al die apteke in die dorp waar Gazette navraag gedoen het, het bevestig dat hul nie kon voorbly met medikasie vir naarheid en diarree nie.
Maar hierdie is nie jou gewone 24 uur omgekrapte maag nie. Volgens dr. Gerrie Lindeque dra die Noro-virus wat tans in omloop is, beslis by tot die skerp toename in gevalle.
Hy het gesê dat hy ook bewus is van gevalle in buurdorpe soos Potchefstroom, Vanderbijlpark, Johannesburg en Pretoria.
Dr. Gerrie sê die virus is baie aansteeklik en weerstandig teen handsaniteermiddels.
Die virus is nog aansteeklik tot drie dae nadat die pasiënt gesond is, sê hy.
Dit tref volwassenes sowel as kinders, anders as die Rota-virus wat hoofsaaklik meer by kinders voorkom.
Die Entero-virus wat ook lugweginfeksie-simptome het (en daarvan is daar ook nou gevalle), kan ook diarree veroorsaak.
Maar daar is ook diegene wat die water blameer met die dorp se watervoorsiening wat knaend onderbreek word. Nadat op Gazette se Facebook-blad die vraag gevra is dat inwoners sou aandui of hulle die afgelope drie weke siek was met naarheid en diarree, was die reaksie verstommend.
Dit was uit al die boodskappe duidelik dat mense baie siek was en steeds is.
‘n Besoeker aan die dorp, Daleen Groenewald, skryf: “Ons was een aand in Parys op pad met vakansie en was die hele vakansie so siek dat ons al die pad moes terugdraai Mosselbaai toe. “Ons wildtuindeel van die vakansie totaal gemis. Het nie eens Parys se water gedrink nie, wat is fout?”
Soos Daleen het ander in die meer as 266 kommentaar-boodskappe ook aangedui dat hul geen munisipale water gebruik nie, en was daar kommentaar van mense wat buite Parys woon, wat ook siek is. Ook mense wat genoem het dat hul weet van gevalle in Koppies, Johannesburg en Secunda. Dr. Gerrie se raad was dat mense moet seker maak hulle was baie goed hande en dat mense wat siek is liewer nog ‘n dag of twee moet tuisbly nadat hulle herstel het. Dit is ook raadsaam om altyd waar jy enigsins sou twyfel oor die veiligheid van drinkwater, jy eerder die water moet kook.

The copyright to this information resides with The Parys Gazette and may be shared as a link to the original or refence to the author but may not be copied without the explicit permission of the author.

Related Articles

Back to top button