News

Munisipaliteit antwoord oor waterwerke

Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, het vandeesweek in ‘n verklaring gesê dat die munisipaliteit kennis neem van die klagtes van inwoners oor die water, veral in Parys, en dat die munisipaliteit se tegniese direkteur en die span gevra is om die saak dringend te ondersoek en terugvoer te gee. Sy sê daar …

Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, het vandeesweek in ‘n verklaring gesê dat die munisipaliteit kennis neem van die klagtes van inwoners oor die water, veral in Parys, en dat die munisipaliteit se tegniese direkteur en die span gevra is om die saak dringend te ondersoek en terugvoer te gee.
Sy sê daar sal spesifiek ondersoek gedoen word na die water by die watersuiweringsaanleg sowel as die water wat deur die watertenkwaens versprei word.
Die burgemeester het gesê dat die munisipaliteit inwoners se kommer as ernstig beskou en dat daar spesifiek gekyk sal word na die behandelingsprosesse en monsters wat deur die laboratorium geneem word vir toetsing.
Raadslede het verlede week tydens ‘n diensleweringsvergadering baie vrae gehad, onder meer oor die watersuiweringsaanleg.
Van die vrae wat daar is, is waarom krane knaend droog is en óf die watersuiweringsaanleg daagliks die 25 megaliter water lewer wat hy veronderstel is om te kan lewer. Daar was ook vrae oor die chloorgasdosering.
Volgens rdl. Saal de Jager het hy met ‘n vroeëre besoek aan die watersuiweringsaanleg gevind dat die sandfilters so leeg was dat selfs die spuitpunte sigbaar was.
Die werk by die sandbed waaraan ‘n kontrakteur gewerk het, en wie se dienste intussen beëindig is, is steeds nie voltooi nie. Die sandbed waar die kontrakteurswerk wel voltooi was, het toe ook nie voldoende gewerk nie, omdat ‘n sterker lugpomp nodig was om die nuwe tipe sandbed aan te dryf. Dit is na verneem is reeds drie maande gelede deur die raadgewende ingenieur voorgestel.
Ook op die Hoopvol WhatsApp-groep is oor die naweek gesê dat die suiweringsaanleg net op ‘genade’ loop vir kort periodes. Boonop is kleppe wat moet oop wees, voortdurend toe.
Op verskeie ander groepe soos Ngwathe Problem report, AfriForum, Chats for Parys Issues en We Care se Krag en Water probleme Telegram-groep, word daar al vir maande daagliks gekla oor die water en droë krane.

Save Ngwathe laat toets watermonsters
Die openbare nie-politiese drukgroep Save Ngwathe het op 19 Augustus by die private geakkrediteerde toetslaboratorium Enviro Care in Potchefstroom, drie kraanwater monsters laat toets. Twee van die monsters was geneem van water uit krane by twee verskillende adresse in Tumahole, en die derde uit ‘n kraan by die Impaksentrum in Waterstraat, Parys. Vir al drie die monsters is steriele houers gebruik wat deur die laboratorium voorsien is. Die toetsuitslae is ook met die publiek gedeel tydens ‘n onlangse gemeenskapsvergadering van Save Ngwathe.
Gazette het die toetuitslae ook aan ‘n plaaslike dokter gewys vir interpretasie, waarmee bevestig is dat die teenwoordigheid van “faecal coliforms” volgens die laboratoriumverslag, daarop dui dat die water wat getoets is, gekontamineer is en dat daar ‘n groot moontlikheid bestaan dat die patogene organismes (organismes wat siektes veroorsaak), in die water teenwoordig is.
By navraag aan Morné Swart, die laboratoriumbestuurder van Enviro Care, het hy bevestig dat die toetsuitslae soos wat hier gesien is, waarskynlik is wanneer water nie effektief behandel is nie.
Save Ngwathe het na die toetsuitslae aangedui dat hy bereid is om weer monsters te toets volgens die munisipale vereistes om die uitslae te kan vergelyk.
De Beers Voorspoed Myn in vennootskap met die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit en die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie het bykans ‘n jaar gelede opgraderings van R2,2 miljoen gedoen by die toetslaboratorium by Parys se watersuiweringswerke wat juis ‘n belangrike rol moes speel om te verseker dat die water wat hier gesuiwer word, skoon en veilig sal wees.

The copyright to this information resides with The Parys Gazette and may be shared as a link to the original or refence to the author but may not be copied without the explicit permission of the author.

Related Articles

Back to top button