News

Hy wou iets mooi maak en nou trek dié skooltuin beslis aandag

Sy kreatiewe idees het al soveel komplimente gekry en selfs die skool se leerders kom met versoeke vir vorms wat hy moet maak.

Stephen Kutoane wou sommer iets mooi maak. So het hy verlede jaar in Covid-tyd begin vorms maak om die beddings op die Dome Primary School se skoolterrein. Sy kreatiewe idees het al soveel komplimente gekry en selfs die skool se leerders kom met versoeke vir vorms wat hy moet maak.
Die tuin en skoolterrein is Stephen en Seun Kibido, die skool se terreinwerkers, se trots.
Sedert die skool sy deure oopgemaak het ses jaar gelede, is hulle al deel van die skool. Eers het hulle as kontrakwerkers gehelp en toe hul kontraktermyn verstryk het, is hulle deur die skool se beheerliggaam as terreinwerkers aangestel.

Stephen se kunstige hand sien jy oral waar hy op die terrein tuinmaak, terwyl Seun se verfkwas sorg vir kleur. Toe die klimraam wat deur die departement aan die skool voorsien is, begin afdop het, het weldoeners wat verbygery het gesien daar kort verf en die verf geskenk. Seun het dadelik ingespring om weer mooi te maak.
Stephen op sy beurt vertel dat wanneer hy gaan slaap, hy aan allerhande idees dink vir die tuin. Die kleigrond is wel ‘n kopseer, maar met die min wat hy het, maak hy mooi.
In Maart vanjaar het Stephen en Seun selfs weer die plaveisel voor die skool herstel danksy sand wat deur die NG-gemeente Parys Wes geskenk is. Die plaveisel reg by die hoofingang is opgetel deur die munisipaliteit toe ‘n pyplek in 2017 hier herstel is, en toe net so gelos. Vreemdes stop gereeld om eers ‘n kompliment te gee wanneer daar verby die skool gery word by die kruising van Delver- en Loopstraat. Ander bring plante, want dié tuin word raakgesien!

Related Articles

Back to top button