News

150 jaar vir Gereformeerde kerk Parys

'n Naweek van feesvieringe

Die foto is geneem met die onthulling van die gedenksteen voor die kerkgebou.

Saterdag, 20 Augustus en Sondag, 21 Augustus was ‘n feestelike naweek vir die Gereformeerde kerk Parys toe dié gemeente sy 150-jarige bestaan kon vier.
Dié kerk het in 1872, voor enige ander kerk in ons omgewing, ontstaan.
Reeds maande voor die feesgeleentheid is al met opknappings aan die kerk, saal en terrein begin. Baie ure se beplanning, oorwegings en harde werk het die feestelikheid voorafgegaan, en het die “Kappie-kerk” ‘n gedaanteverwisseling ondergaan.
Die Saterdagoggend het GP van Rheede van Oudshoorn en sy musiekgroep, It takes five, die geleentheid feestelik ingelei. Die vreugdevure was aan die brand om sosaties, hoender en wors vir middagete reg te kry.
‘n Oudleraar van die gemeente, ds. Faan Smit, het herinneringe uit sy bedieningstyd in Parys (1997 tot 1999) met die gemeente gedeel.
Emeritus prof. Jorrie Jordaan, wat ook met die 125-jaar herdenking van die gemeente ‘n boodskap gebring het, het weer ‘n groete-boodskap namens die Gereformeerde kerke in Suid Afrika en die Teologiese Skool (Potchefstroom) gelewer.
Mev. Annetjie Myburg (weduwee van ds. Andries Myburg, wat die gemeente van 1967 tot 1975 bedien het) het die onthulling van die gedenkbord in die kerksaal waargeneem, en is die dag afgesluit met ‘n heerlike ete en die saam geniet van ‘n Melodrama-DVD – iets wat die gemeente ‘n aantal jare gelede opgevoer het.

Mev. Annaejie Myburg en dr. Rudolph van der Merwe met die onthulling van die gedenkbord in die kerksaal. Foto: Grietjie Nel
Van links is Piet Duvenage, mev. Annetje Myburg, Frans Duvenage en prof. Tienie van der Walt. Frans en Piet se pa het destyds die staalkonstruksie van die kerk en kloktoring gemaak, terwyl prof. Tienie se pa die boukontrakteur was. Foto: Grietjie Nel.

Die gemeente en besoekers het Sondag saam nagmaal gevier, en is ‘n Olienhoutboom seremonieel geplant.

Die gemeente se huidige leraar, dr. Rudolph van der Merwe, het die voorreg gehad om ‘n graniet gedenksteen te onthul. Die geleentheidspreker was dr. Victor d’Assonville.
Hy het verduidelik hoe diep hierdie geleentheid as onderdeel in die groter kerkgeskiedenis ingebed is.
Die naweek is daarna afgesluit met ‘n feesmaal.
Só het die gemeente ontstaan:
Ds. L.J. du Plessis, leraar van die Gereformeerde kerk Rustenburg (1872 tot 1880) het die Gereformeerde gemeente Parys in 1872 onder die naam Gereformeerde kerk Vredefort gestig op ‘n gedeelte van die plaas Vischgat van Jac. Scheepers.
By die stigting was die getal lidmate 52.
Dit was die enigste Afrikaanse kerk in die Noord-Vrystaat. Dit was nadat die gemeente Ventersburg (1864 gestig) lidmate langs die Renosterrivier, wat suid van Koppies en Vredefort verbyloop, genader het om ‘n eie predikant te beroep, maar hulle reeds besluit het om met Potchefstroom saam te werk.
Vanuit Rustenburg het eers ds.
Dirk Postma en later ds. J. L. Maury vanuit Potchefstroom die lidmate bedien. Hy is met ‘n perdekar heen en weer vervoer.
Die kerkgebou:
Die Gereformeerde kerkgebou soos Parysenaars dit vandag ken, was die eerste ultra-moderne kerk in die land, en is in 1955 gebou deur lidmate van die gemeente.
Wyle mnr. Johan de Ridder van Pretoria was die argitek. Die kerkgebou het ‘n nuwe rigting van kerkargitektuur begin.
Die revolusionêre ontwerpstyl was in die vorm van ‘n tent wat die tydelike tentwoning van die mens op aarde simboliseer (2 Petrus 1:13). Twee sirkelvormige hout hanglampe met 60 gloeilampe, en al die ruite wat blou is, skep ‘n rustige atmosfeer. Hierdie boustyl het ook in die buiteland bekendheid verwerf. Parysenaars het mettertyd na die kerkgebou begin verwys as die Kappiekerk omdat die dak herinner aan ‘n Voortrekkervrou se kappie.

Die lewensgetroue weergawe van die Gereformeerde kerkgebou in Parys gemaak uit vuurhoutjies. Dit is die handewerk van wyle mnr. Stoffel Bester.

Related Articles

Back to top button