News

Die bekgeveg oor jeugboeke

""Ek voel sterk daaroor dat as ’n kind of jongmens die regte boek op die regte tyd onder oë kry, dit hulle in ’n lewenslange leser kan omtower."

Vroeër vanjaar het ’n geleerde man ’n rubriek geskryf waarin hy kla oor al die sogenaamde ‘randfigure’ in hedendaagse Afrikaanse kinder- en jeugboeke. Hy het gevoel dat jeugboeke deesdae meer aweregse as “normale” karakters inhet, en het hy met nostalgie teruggehunker na die tyd van Tarzan en Rooijan.
Daar is niks verkeerd daarmee om nostalgies te wees nie, maar ’n mens moet onthou dat nostalgie ’n baie persoonlike ding is. Die sepiafoto wat jy in jou kop het van jou eie kinderjare, verskil hemelsbreed van ander mense se jeugherinneringe. Veral in ons land.
Die vergeelde foto van jou jeuglandskap verskil ook drasties van vandag se jeugfoto. Nee, kom ons maak dit vandag se TikTok-video. En as jy nie weet wat ’n TikTok-video is nie, ondersteun dit juis die punt wat ek hier probeer maak.
Die slim professor se rubriek het ’n bekgeveg rondom kinderboeke laat losbars – ’n oorlog waarin grootmense mekaar aangevat het oor alles van politiese korrektheid tot homoseksualiteit en rassisme.
Die enigste mense wat tjoepstil hieroor gebly het, was die skrywers van jeugboeke, en die kinders vir wie die boeke geskryf word.
Vandag se jeug leef in ’n heel ander wêreld as dié van die vorige klompie dekades. Hoewel daar altyd ’n behoefte aan boeke vol kattekwaad, grappies en onskuldige avonture sal wees, wil kinders ook lees oor die lewe soos dit nou is.
Boeke help kinders om sin te maak van hul omgewing. Hulle wil hulself en hul maats in boeke raaklees.
Wanneer ’n karakter in ’n boek vrese en vrae het wat soortgelyk is aan jou eie, voel jy minder alleen. Weet jy dat jy nie ’n frats is nie.
Gesinne lyk vandag baie anders as in Trompie en Saartjie se tyd. Egskeiding was byvoorbeeld destyds die uitsondering, en die tipiese huishouding het bestaan uit ’n pappa, ’n mamma en ’n paar sibbe.
In Afrikaanse boeke was die karakters gewoonlik wit. In ’n geïntegreerde en moderne Suid-Afrika, lyk gesinne, leefwêrelde en as gevolg hiervan ook jeugboeke – heel anders.
Dink aan die gesin met ’n enkelouer-ma wat hard moet werk om die pot aan die kook te hou. Dit maak nie saak of sy bruin, swart of wit is nie. Die stryd om oorlewing is dieselfde.
Daar is definitiewe ooreenkomste in die dinamika van sulke huishoudings. Dink aan die gesin waar albei ouers oorlede is, en een of al twee grootouers na die kinders kyk – ’n redelik algemene situasie in die armer gemeenskappe van ons land.
Dikwels is daar ’n tiener in so ’n huis- gesin wat help om die jonger kinders te versorg.
Daar is uitgebreide gesinne wat na niggies en nefies omsien omdat grootmense hul werk verloor het en finansies ontbreek. En ja, daar is gesinne met twee pappas of twee mammas. Dikwels met ’n aangenome kind.
Nie almal in moderne gesinne is noodwendig van dieselfde ras nie. Dit gebeur in Suid-Afrika in 2022. En dit is meer algemeen as wat jy dink.
Al hierdie kinders beland saam op die skoolbanke. Al hierdie tieners word grootmense en moet in harmonie met mekaar saamleef.
As skrywer wil ek help om die skerp kante van jarelange vooroordeel glad te skaaf. Maar meer nog, ek wil ’n lewensgetroue beeld van ons wêreld aan jongmense voorhou.
My lesers is nie onnosel nie, en die meeste van hulle glo nie meer in feeverhale nie.
Maar wat wíl die jeug deesdae lees? Waaraan het hulle ’n behoefte?
Ek voel sterk daaroor dat kinders ’n verskeidenheid van leesstof nodig het. Hulle het boeke vir suiwer vermaak en ontsnapping nodig.
Daarom is fantasie en wetenskapsfiksie besonder gewild in hierdie leesgroep. Die jeug is leergierig, en wil soms oor feite lees – die slimste kinderboekskrywers kry dit reg om feite moeiteloos deur ’n storielyn te weef.
Maar die jeug het ook boeke nodig wat hulle help om daardie niemandsland tussen kindwees en volwasse-word te navigeer. Stories wat rigting gee sonder om prekerig te wees.
Wat lei tot vrae in die klaskamer en lewendige debatte oor reg en verkeerd, gevoelens, boeliegedrag, eerste liefde.
Dis die boeke wat ek graag skryf, omdat ek so goed kan onthou hoe gekompliseerd my eie tienerjare was.
Ek voel sterk daaroor dat as ’n kind of jongmens die regte boek op die regte tyd onder oë kry, dit hulle in ’n lewenslange leser kan omtower.
Kinders wat hou van lees, se algemene kennis is groter en hulle doen eenvoudig beter op skool en natuurlik ná skool omdat studie massas leeswerk verg.
As volwassene en ouer, is dit jou taak om die regte boeke op jou kind se groeipad te plaas.

Hier is ’n paar aanbevelings van jeugboeke – nie net van Zelda se werk nie, maar ook boeke deur ander jeugboekskrywers.
Ouderdom 10 – 13
Die 3 van ons – Zelda Bezuidenhout (’n Lekkerleesboek oor die towerkrag van vriendskap.)
’n Goeie dag vir boomklim – Jaco Jacobs (’n Lieflike verhaal oor ’n seun, ’n meisie en ’n boom).
Ouderdom 13 – 15
As jy droom – Daniëlla van Heerden en Megan Werner (Die ware verhaal van ’n meisie wat saam met ander tieners ’n vliegtuig bou en daarmee van Kaapstad na Kaïro vlieg.
As mens geluk kon proe – Zelda Bezuidenhout (’n Klomp maats begin ’n mobiele snoepie by hul skool.) Ook in Engels beskikbaar as Confessions of a Ginger Pudding.
Om jou te ken – Cliffordene Norton (Gabby en haar niggie Georgia kry per ongeluk mekaar se dagboeke in die hande).
15+ (Jong volwassenes)
Donkerbloed – Elrien Scheepers (Opwindende wetenskapsfiksie wat in die Suid-Afrika van 2045 afspeel)
Toe ons oneindig was – Zelda Bezuidenhout (Kara Immelman besef in haar matriekjaar dat sy al baie lank vir haarself, haar ouers en haar maats lieg).
Al hierdie boeke kan aanlyn bestel word by winkels soos www.graffitiboeke.co.za
Zelda Bezuidenhout se boeke is ook in Parys beskikbaar by La Vie en Rose, Meyers Ranch Deli en Liewer Koffie

Related Articles

Back to top button