News

Prof Victor d’Assonville: Vredefort Koepel se mense bring hulde aan ’n merkwaardige man en skrywer

Prof ons gaan jou baie mis.

Prof. Victor d’Assonville, wat diep spore laat ook hier in die Vredefort Koepel, en bekend was as merkwaardige teoloog, bekende skrywer en akademikus, dierbare vriend en geliefde eggenoot en oupa, is Donderdag ná ‘n kort siekbed in die ouderdom van 95 jaar oorlede.
In sy leeftyd het meer as 35 boeke, en sowat 250 tydskrifartikels onder die naam VE d’Assonville uit die pen van prof. dr. Victor d’Assonville verskyn.
Sy boeke sluit ’n wye verskeidenheid van interessante Bybelse en geskiedkundige onderwerpe, asook biografiese werke in.
Victor d’Assonville II voltooi sy akademiese studies in Potchefstroom, Edinburgh (Skotland) en Pietermaritzburg,
waar hy die grade BA, Th.B., Th.M. en ’n Ph.D. asook ’n doktoraal in kerkreg verwerf.
In sy bedieningstyd as predikant het hy vir meer as twee dekades verskeie gemeentes in die Gereformeerde Kerke met die Woord bedien, naamlik Pietermaritzburg, Johannesburg-Sentraal, Pretoria Sunnyside, Potchefstroom Noord, Cachet asook Noordbrug. In Johannesburg het onder meer ’n Engelssprekende gereformeerde kerk – wat vandag nog bestaan – met sy bediening daar ontstaan.
Vanaf 1979 af was hy onder meer Departementshoof in Bybelkunde aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir
Christelike Hoër Onderwys (vandag die Noordwes Universiteit), en ook ’n Professor in Teologie aan die Fakulteit Teologie
tot in 1992.
Van 1986 tot 1988 was hy ook rektor van die Teologiese Skool in Potchefstroom. Sedert 1992 het prof. d’Assonville hom voltyds op sy skryfwerk toegespits.
Die navorsing vir al sy boeke dek ’n verskeidenheid van teologiese en historiese onderwerpe en is in verskeie argiewe in Suid-Afrika en die buiteland gedoen.
Hy fokus in sy Christelike publikasies op temas oor die Psalms, Kerkgeskiedenis en die Boek Openbaring – laasgenoemde boek is ook in Engels as ‘The Book of Revelation’ gepubliseer.
Die vraagstukke wat hy aangeraak het, lewer ’n groot bydrae vir die moderne leser om die Bybel beter te verstaan, en dien as inspirasie en padkos vir die geloofslewe,
Met een van sy nuutste boeke, ‘Hemel, Hel en Nuwe Jerusalem’ word die vraagstuk volgens die titel van die boek met insig en
toepassing uit die Bybel behandel.

Die historiese boeke van prof. VE d’Assonville handel oor belangrike onderwerpe en gebeure in die geskiedenis van Suid-
Afrika en die Boerevolk, waaronder ‘Majuba’ en ‘Bloedrivier’. Die boeke ‘Die Groot Diamantroof’ asook ‘Kruger en Rhodes’ handel oor gebeure tussen Boer en Brit in die negentiende eeu. Van sy boeke het telkens nuwe navorsing en feite aan die lig gebring oor gebeure in die Anglo-Boereoorlog (‘Generaal de Wet in die Vredefortkoepel’ en ‘Op die Bodem van die Vaaldam’), die Rebellie (‘O Vaalrivier! …, Broederstroom’ en ’n deel van ‘Op die Vaaldam se bodem’ – onder andere met vertellings van sy pa in die ABO waar hy onder generaal Christiaan de Wet in die Vrystaatse magte gedien het, en die Rebellie), en oor die werk van Eugène Marais in die Waterberge.
Van sy biografiese werke is sy biografie ‘SJ du Toit van die Paarl’ die mees omvattende.
Prof. d’Assonville het ook jarelange navorsing oor die digter en Bybelvertaler, prof. dr. JD Du Toit (Totius) gedoen. Die vrug
hiervan was drie boeke oor Totius wat gepubliseer is naamlik die omvattende biografie ‘Dit is Totius’, ’n vroeëre biografie ‘Totius
– profeet van die Mooirivier’ en die ‘Oorlogsdagboek van Totius’.

“Hy was ‘n man wat die skatte van ons volksverlede kon opgrawe, en dit oordra op ‘n manier wat jou trots maak op jou herkoms en geskiedenis, en met nuwe moed die uitdagings van ons eie tyd kon laat tegemoetgaan. Passievol oor God se Woord en Sy handelinge met ons as mens, is hoe ons hom altyd sal onthou. Die werk wat hy gedoen het sal vir altyd voortleef,” het Juan Greeff in sy huldeblyk namens die Koepel Boerevereniging, aan prof d’Assonville geskryf.
In die huldeblyk word ook spesiale melding gemaak van die toegewyde en deeglike skrywerk van prof. d’Assonville, waarvan baie van hierdie boeke deur prof d’Assonville geskenk is as bydrae tot die veiligheidsfonds van die Boereverening.
Sy lewenswyshede wat hy gereeld gedeel het by byeenkomste en kuiertjies op die plaas, en as mentor vir baie, het soveel harte geraak.
Die Dewetsdrift Geloftefeeskomitee het in hul skrywe prof d’Assonville as ’n “geloofsreus” beskryf. In die huldeblyk namens die geloftefeeskomitee het Lorita Kurten gesê dat die ywer van sy lewe altyd onthou sal word. “Ons groet die dapper wagter op die muur en is baie dankbaar vir sy literêre skatte ons nagelaat. Ons diepe meegevoel aan tannie Therese en die d’Assonville kinders en nasate wat in die koelte van ‘n groot boom kon gedy.”

Chris Reinecke het namens die bestuur van die Vrystaat Koepel Grondeienaars prof. d’Assonville as ’n merkwaardige man beskryf wat met mooi gawes geseën was. “Die boek oor Generaal De Wet in die Koepel is veral vir ons van groot belang. Prof ons gaan jou baie mis.”
Die troosdiens van hierdie merkwaardige man wat so ’n besondere band met die Vredefort Koepel en sy mense gehad het, en ’n ongelooflike skat van kennis en insig nalaat, is môre, Dinsdag 30 Augustus vanuit die Gereformeerde Kerk Die Kandelaar in Pretoria Hy word Vrydag 2 September in die familiebegraafplaas op die plaas Middendeel in die Boshof-distrik te ruste gelê
Prof d’Assonville en sy vrou, Therese, was langer as 66 jaar getroud en was in Pretoria gevestig. Hy word oorleef deur Therese, hul vyf kinders, 17 kleinkinders en vyf agterkleinkinders
Die familie sê dankie aan elkeen vir die meelewing die laaste tyd, en oor jare heen.

Related Articles

Back to top button