News

Prof d’Assonville: Huldeblyke uit die Koepel vir ‘n besonder merkwaardige man

Prof om gaan jou baie mis

Prof. Victor d’Ássonville, wat diep spore laat ook hier in die Vredefort Koepel, en bekend was as merkwaardige teoloog, skrywer en akademikus, dierbare vriend en geliefde eggenoot en oupa, is Donderdag ná ‘n kort siekbed in die ouderdom van 95 jaar oorlede.
“Hy was ‘n man wat die skatte van ons volksverlede kon opgrawe, en dit kon oordra op ‘n manier wat jou trots maak op jou herkoms en geskiedenis, en met nuwe moed die uitdagings van ons eie tyd kon laat tegemoetgaan. Passievol oor God se Woord en Sy handelinge met ons as mens, is hoe ons hom altyd sal onthou.
Die werk wat hy gedoen het sal vir altyd voortleef,” het Juan Greeff in sy huldeblyk namens die Koepel Boerevereniging, geskryf.
In die huldeblyk  word spesiale melding gemaak van die toegewyde en deeglike skrywerk van prof. d’Assonville, wat nie net erfstukke in boekrakke geword het nie maar waarvan stapels van hierdie boeke ook deur prof d’Assonville geskenk is as bydrae tot die veiligheidsfonds van die Boereverening.

Sy lewenswyshede wat hy gereeld gedeel het by byeenkomste en kuiertjies op die plaas, en as mentor vir baie, het soveel harte geraak.
Die Dewetsdrift Geloftefeeskomitee het in hul skrywe prof d’Assonville as ’n “geloofsreus” beskryf. In ’n huldeblyk namens die komitee skryf Lorita Kurten dat die ywer van sy lewe altyd onthou sal word. “Ons groet die dapper wagter op die muur en is baie dankbaar vir sy literêre skatte ons nagelaat. Ons diepe meegevoel aan tannie Therese en die d’Assonville kinders en nasate wat in die koelte van ‘n groot boom kon gedy.”

Chris Reyneke het in ’n boodskap namens die bestuur van die Vrystaat Koepel Grondeienaars die volgende geskryf: “Prof Victor was n merkwaardige man wat met mooi gawes geseën was. Hy was hoogs begaafd en het hom as teoloog onderskei waar hy groot bydraes gemaak het. Na sy aftrede het hy steeds aktief navorsing gedoen en verskeie boeke het uit sy pen verskyn. Die boek oor Generaal De Wet in die Koepel is veral vir ons van groot belang. Prof om gaan jou baie mis.”
Die troosdiens van hierdie merkwaardige man wat so ’n besondere band met die Vredefort Koepel en sy mense gehad het, is môre, Dinsdag 30 Augustus vanuit die Gereformeerde Kerk Die Kandelaar in Pretoria.  Hy word Vrydag 2 September in die familiebegraafplaas op die plaas Middendeel in die Boshof-distrik te ruste gelê
Sy vrou, Therese, en die familie sê dankie aan elkeen vir die meelewing die laaste tyd, en oor jare heen.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button