News

Trokdrywer verpletter oor kinders se dood

"Hy wonder nog hoekom hy lewe en die vyf skoolkinders moes sterf."

Die vragmotorbestuur wat verlede Donderdag (18 Augustus) in Laerskool Vyfhoek ingeploeg het, wroeg oor die ongeluk wat vyf kinders se lewe geneem het.

Hy het beheer verloor toe die vragmotor se voorste wiel na bewering op die N12 gebars het. Die bestuurder was op pad na Johannesburg vanaf die Noordkaap toe die insident gebeur het.

Basil Read, die konstruksie en myndiensmaatskappy waaraan die trok behoort, het vandag (Woensdag, 24 Augustus) aan die Gazette se susterskoerant, Potchefstroom Herald genoem dat die maatskappy berading vir die bestuurder bied en hom in die moeilike tyd ondersteun.

“Dit gaan daagliks effens beter met hom sedert die ongeluk. Hy is self ‘n pa met drie kinders en wat gebeur het is baie moeilik vir hom om te verwerk. Hy wonder nog hoekom hy lewe en die vyf skoolkinders moes sterf,” vertel die bestuurshoof van Basil Read, Khathu Mapasa.

“Hy het vir my vertel dat hy nou nog homself vra oor hoe hy die ongeluk kon vermy het. Dit is net ‘n verskriklike gebeurtenis en ek kan nie indink waardeur hy moet gaan nie,” voeg Mapasa by.

Die vragmotorbestuurder se vrou het ook hierdie week vanaf Limpopo gereis om hom te ondersteun. Volgens Mapasa was die vragmotorbestuurder Maandag by die werk, maar hy is huis toe gestuur omdat hy nog nie emosioneel reg is om te werk nie.

Taxibestuurders wat kinders by die skool opgelaai het, het ook die vragmotorbestuurder net na die ongeluk glo uit sy voertuig gehaal en hom aangeval. Polisie het ingetree en die man hospitaal toe geneem. Hy is later sonder ernstige beserings ontslaan.

“Hy het beserings opgedoen met die ongeluk, soos die sitplekgordel wat hom gekneus het. Hy het ook nog baie seer en gebruik pynmedikasie op die oomblik. Ek het gister met hom gesels en hy noem as hy hoes is daar nog baie pyn,” sê Mapasa.

Mapasa het beklemtoon dat daar tans ‘n ondersoek van stapel gestuur is om uit te vind hoekom die ongeluk gebeur het.

“Ons kom streng veiligheidsmaatreels na en maak seker dat die voertuie altyd gediens is. Hierdie voertuig is verlede maand gediens en die bande is ook onlangs geruil. Verder het ons ook moniteringstelsels in die voertuig wat aandui wanneer bestuurders moet stop om te rus, en of hulle oor die spoedgrens gaan. Die bestuurder het in Vryburg en Wolmaranstad gestop en alle protokolle gevolg,” meen Mapasa.

Die polisie is ook besig om ‘n saak van strafbare manslag te ondersoek.

https://potchefstroomherald.co.za/112331/trokdrywer-verpletter-oor-kinders-se-dood/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button