News

‘Elkeen van ons het iewers ’n bietjie kreatiwiteit in ons’

Vir Teresa is daar niks so lekker as om haar passie met ander te deel wanneer daar gereeld saam om ‘n tafel gesit word om kunsvlyt projekte te maak, idees te ruil en nuwe tegnieke te leer.

“Ek glo vas dat elke mens iewers in hulle ‘n bietjie kreatiwiteit het. Dit is ‘n vaardigheid wat jy moet ontwikkel, en deur dit te doen, kry jy die genot van ontspanning.”
Só gesels Teresa Wessels wat in 2019 naaswenner was van KykNet se Kunsvlyt-kompetisie. Sy en haar man is deesdae Parysenaars, en inspireer sy ook hier ander met haar borrelende geaardheid en kunstige idees. Haar stokperdjies was nog altyd vir haar ‘n ontvlugtig wanneer haar dag as persoonlike assistent té stresvol raak, vertel sy. Maar eintlik was dit ‘n vriendin wat haar met die woorde: “Ek ken niemand meer kreatief as jy nie,” oortuig het om vir KykNet se Kunsvlyt realiteitsreeks in te skryf.
“Ek het geen van die vorige episodes vooraf gesien nie, en was baie huiwerig oor of ek enigsins iewers gaan kom in die kompetisie, maar het uit die staanspoor besluit ek gaan om die ervaring te geniet.”
“Ek het ongelooflike vriendinne gemaak en dit was een van die beste ondervindings in my lewe,” gesels sy.
Sy vertel dat sy net ‘n paar weke nadat sy haar inskrywing ingestuur het, die oproep van die vervaardiger gekry het. Sy moes haar tasse pak vir twee weke se verfilming van die kompetisie-reeks by ‘n gastehuis waar die 10 finaliste van oor die land hul slag moes wys met kunsvlyt projekte terwyl die kamera deurentyd elke fyn beweging, elke emosie en (frustrasie) vasgevang het ten aanskoue van kykers wat vasgenael was voor die kassie.

Daar was net twee ure om jou projek te voltooi met net die produkte wat by die “winkel” op stel beskikbaar was, en jou eie vaardighede en kunstigheid waarmee jy die beoordelaars se voete onder hulle moes uitslaan. Ná elke episode is een kunsvlyter huis toe gestuur.
Vir Teresa was dit besonders om mense wat haar passie vir kunsvlyt deel, te ontmoet. Deelnemers wat later vriende geword het.
Sy onthou nog die spanningsvolle oomblikke op stel, maar ook die lekker om die verskillende produkte wat jou hart ook al begeer het te kon gebruik. ‘n Ervaring en fantastiese pryse waarvoor sy altyd dankbaar sal wees, sê Teresa.
Kuns hoef nie altyd perfek te wees nie, sê sy. “Ek onthou hoe my ma ons altyd besig gehou het met handwerk en kunsvlyt as kinders. Ek dink vandaar my liefde vir kunsvlyt.”
Oor die jare het sy altyd goed gemaak, en mooi gemaak en dit sien jy in haar huis.
In 2021 verruil sy en haar man die stadslewe vir ‘n lewe in die platteland, en het sy deesdae ook haar eie klein onderneming en aanlyn webwinkel waar sy tussendeur ‘n voldag se werk, ‘silkscreen’ stensils maak. ‘n Proses wat baie tydrowend en gespesialiseerd is, vertel sy. Die tipe stensils word gebruik om fyn ontwerpe te kry op onder meer tekstiel, klei, gebak, papier en meer. Dis veral populêr onder kunsvlyters.
Vir Teresa is daar niks so lekker as om haar passie met ander te deel wanneer daar gereeld saam om ‘n tafel gesit word om kunsvlyt projekte te maak, idees te ruil en nuwe tegnieke te leer.

Related Articles

Back to top button