News

Nog net 50 nodig om babahuis te help

Nog net 50 gebreide of gehekelde blokke, gemaak volgens enige patroon, met enige wol, 20cm x 20m groot, is  nodig om die Emunah Foundation se babahuis te help. Maar hoe help gebreide of gehekelde blokke dié babahuis in Parys, sal jy vra? Altesaam 100 blokke waarvan daar nou reeds 50 is, gaan aanmekaar gewerk word …

Nog net 50 gebreide of gehekelde blokke, gemaak volgens enige patroon, met enige wol, 20cm x 20m groot, is  nodig om die Emunah Foundation se babahuis te help. Maar hoe help gebreide of gehekelde blokke dié babahuis in Parys, sal jy vra?

Altesaam 100 blokke waarvan daar nou reeds 50 is, gaan aanmekaar gewerk word deur die onderneming, Anna Patat, in Parys se hoofstraat, vir die allermooiste, kleurvolste kombers waarvoor lootjies by Anna Patat verkoop word teen net R30 stuk. Die wenner van hierdie pragtige handwerk word op 24 September getrek en al die fondse wat met die lootjies ingesamel word gaan ten bate van Emunah om te kan voorsien in die behoeftes van die kinders na wie hier omgesien word.

Hande wat omgee het reeds 50 van hierdie blokke gemaak. Ons is halfpad daar. Nog net 50 blokke is nodig vir die allermooiste en kleurvolste kombers waarvoor lootjies verkoop word om die Emunah Foundation in Parys te help.

 

Wat doen Emunah

Weggooi babas wie se liggaampies al erg ontbind was toe hulle gekry is. Grafstene wat die hartseer storie vertel van ‘n samelewing waar kinders weggegooi word. Kort-kort lees jy van ‘n volmaak geskape baba, pasgebore, weggegooi iewers, op ‘n stortingsterrein saam met ander afval, in vullisblikke, toilette.

Tog is die ironie dat Parys al sedert 2016 juis deur middel van die Emunah Foundation gerat is om aborsies en pasgeborenes wat agtergelaat word, te help voorkom deur die Wall of Life. ‘n Projek waarmee in Junie vanjaar reeds vyf van hierdie weggooi babas in Parys ‘n tweede kans op lewe gekry het sedert die ontstaan van Emunah.

Die Wall of Life-projek is aanvanklik deur ‘n polisielid, wyle Michelle Stephenson van Vanderbijlpark begin met die Jessica’s Wall of Life projek.

Sy is in 2006 as polisielid uitgeroep na ‘n vullishoop waar sy gekonfronteer is met die harde werklikheid van ‘n baba wat weggegooi is. Met soveel deernis het sy die babalykie uitgehaal en toegesien dat sy met waardigheid soos haar eie kind begrawe is.

Daar het die gedagte posgevat om seker te maak dat elke baba eerder die kans op lewe sou hê as ‘n aborsie, of om weggegooi te word deur ‘n ma wat voel dat sy geen ander opsie het nie.

Die Wall of Life is ‘n “kluis” met ‘n voor- en agterdeur. Sodra die voordeur oopgemaak word om die baba in die kluis te plaas, gaan ‘n alarm af, sodat daar dadelik aan die baba aandag gegee kan word. Ultravioletligte binne die kluis maak seker dat die temperatuur gunstig is vir die baba.

Die baba word dan versorg totdat ‘n geskikte tuiste gekry kan word deur die regte kanale te volg.

Emunah Foundation se Wall of Life is by hul perseel by Eerstelaan 50, en word die kluisalarm 24 uur, sewe dae per week deur Parys Sekuriteit gemonitor.

Maar dit is nie net weggooi babas wat hier ‘n tydelike huis van liefde vind nie.  Terwyl die nood daarbuite aan bykans elke deur klop, is die huis van Collin en Sonja Viljoen by Emunah Foundation gereeld ‘n tydelike hawe vir kinders wat net die skadukant van die lewe ken. Sommige wie se ouers hulle nie meer wil hê nie. Ander verwaarloos of mishandel. Geen kind word ooit weggewys nie. Maatskaplike werkers en die owerhede wat genoodsaak is om kinders tydelik uit hul huislike omstandighede te verwyder, maak gebruik van fasiliteite soos Emunah waar kinders tydelik geplaas kan word terwyl die nodige prosedures gevolg moet word.

Jy kan help deur een van hierdie blokke te brei of te hekel en by Anna Patat in Breëstraat af te gee en só die fondsinsameling vir Emunah te ondersteun.  Stuur whatsapp na 079 386 2831 as jy meer inligting oor die projek nodig het. 

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button