News

Moenie die waarde van goeie buurmanskap onderskat nie

Vandag, meer as ooit, is dit belangrik dat jy weet wie jou bure langs jou, maar ook oorkant jou is.

Of dit ’n verdagte beweging in jou erf is, jou alarm wat skielik sou afgaan, honde wat in die straat beland, of selfs ‘n brand of ander nood. Jou bure is waarskynlik die mense wat jou eerste sal laat weet as daar fout is by jou huis, of by wie jy gaan aanklop in tyd van nood. Tog gebeur dit dikwels dat mense vir jare in ’n buurt bly en nie weet wie hul bure is nie.
Vandag, meer as ooit, is dit belangrik dat jy weet wie jou bure langs jou, maar ook oorkant jou is. Om te gaan kennis maak en telefoonnommers te ruil, en meer aandag te gee aan wat in jou woonbuurt gebeur.
As jy weet wat in jou buurt aangaan, watter voertuie daar beweeg, wie van jou bure bedags tuis is, wie dalk vir ’n tyd weg is, waar daar bejaardes of siek persone sou wees, maak dit, dit soveel makliker om effektief en vinnig te kan optree en hulp te verleen wanneer nodig. Só sal jy weet om verdagte bewegings in ’n buurman se erf wat met vakansie is, te rapporteer, of te gaan seker maak of alles in orde is by ’n bejaarde buurman of buurvrou wat jy dalk vir ’n tyd nie gesien het nie.
Die waarde van goeie buurmanskap geld ook veral tydens langdurige nood wanneer kommunikasie netwerke af is, en dit baie belangrik is om mondelinge kommunikasie te behou deur die “grapevine” sodat hulpbehoewende mense nie oor die hoof gesien word nie, sê Wynand Nel van WeCare.
’n Waardevolle wenk is om ‘n kontakpersoon/e in jou straat of blok te nomineer wie se kontakbesonderhede op ’n buurtwaglys geplaas kan word. So ’n persoon kan dan help om seker te maak dat kontak gehou word met mense in ’n blok of woonbuurt, of dat nood dadelik deurgegee kan word.
Wees aktief by jou buurtwag betrokke, sê Wynand. Skaf ‘n noodfluitjie aan waarop jy kan blaas om mense in jou onmiddellike omgewing te waarsku en boosdoeners af te skrik.
Hou altyd genoeg kontant byderhand om brandstof en lewensmiddele te kan aankoop. OTM en kaartmasjiene sal moontlik nie werk wanneer krag en kommunikasienetwerke nie werk nie.
Hou altyd genoeg drinkwater vir ‘n paar dae byderhand vir jou huishouding, asook water vir sanitêre doeleindes as jy kan. Nie-bederfbare kos is ook belangrik. Maak seker dat jy genoeg chroniese medikasie het om ‘n noodsituasie te oorkom.
As jy alleen woon, siek of verswak is, reël dat iemand gereeld ’n draai by jou maak. As jou familie ver bly, verskaf aan hul nommers van ‘n buurman, vriend of organisasie wat kan kom inloer as hulle nie jou in die hande kan kry nie.
Hou ‘n flits altyd handig naby. Herlaaibare flitse en ligte is baie gewilde items. Maak seker jy het ‘n betroubare manier om dit te herlaai.
Maak seker dat jou woning se hoofskakelaar, of ten minste stowe, mikrogolwe, geysers en verwarmers afgeskakel is en af bly totdat kragtoevoer behoorlik herstel is na ’n kragonderbreking om skade en brande te voorkom. Vermy oop vlamme (byvoorbeeld kerse) in vertrekke waar daar nie mense sou wees nie. Skaf beslis ‘n brandblusser aan, en installeer op ‘n maklik bereikbare plek om ‘n brand gou te kan blus. Hoe langer ‘n brand woed, hoe langer neem dit om te blus.
Onthou ook om brandblussers gereeld na te gaan en te diens. Vergewis jouself en jou gesin van die werking daarvan. Gaan jou gastoerusting gereeld na. Hou brandbare items en brandstof toe en ver weg van toerusting in gebruik.
Noodkragopwekkers word baie verwaarloos, en kan lewensgevaarlik wees as dit verkeerd gebruik word. Diens jou noodkragopwekker betyds voor sy voorgeskrewe diensperk (gewoonlik 60-ure vir klein petrolenjins en 100-120 ure vir groot dieselenjins) en hou boek van die enjin ure.
Hou ook ‘n ekstra, volledige stel diens items (vonkprop, filters ens.) vir jou noodkragopwekker in geval van nood. Toets jou noodkragopwekker minstens weekliks en let op die toestand van die brandstof en pype. Prop tot prop koppeling van ‘n noodkragopwekker aan jou huis is uiters gevaarlik en onwettig. Kry jou elektrisiën om vir jou ‘n oorskakelaar te installeer op jou verdelingsbord wat verkieslik jou stoof en geyser ontkoppel as na die noodkragopwekker oorgeskakel word. ’n Elektrise sertifikaat is ook nodig vir wets-en-versekeringsdoeleindes.
Moet nooit ‘n noodkragopwekker in ‘n toe of klein vertrek laat loop nie. Dit kan oorverhit en die uilaatgasse kan lewensgevaarlik wees.
Hou ‘n goeie noodhulpkassie in jou huis. Wees ook vertroud met die inhoud en gebruik van die inhoud. Dit kan ‘n lewe red.
Maak seker jy hou noodnommers byderhand.
Moet nooit tuingereedskap of ander gereedskap buite laat rondlê waar misdadigers dit kan steel of kan gebruik om toegang tot jou huis te kry nie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button