News

Tekort aan pleegouers wek groot kommer

Die uitdagings van pleegsorg moet nie gering geskat word nie. Dit is daarom noodsaaklik dat voornemende pleegouers deeglik gekeur moet word om seker te maak daar word holisties in die behoeftes van die betrokke kind voorsien.

Daar is ’n kommerwekkende tekort aan pleegouers. Meer as 105 kinders is gedurende die tydperk 2021/2022 in residensiële instansies soos kinderhuise geplaas weens die feit dat daar nie genoeg en geskikte pleegouers beskikbaar was nie. So sê Isabel Faurie, ʼn maatskaplike werker van Helpende Hand.
Solidariteit Helpende Hand het nou ʼn spesiale aanlyn platform geskep om die proses vir potensiële pleegouers makliker te maak.
“Al die geregistreerde kinderbeskermingsorganisasies in Afrikaner-kultuurgemeenskappe waarmee Helpende Hand onlangs geskakel het, dui aan dat daar ’n tekort aan pleeg- en veiligheidsouers is,”
“Omstandighede noodsaak dit soms dat kinders onmiddellik uit ouerlike sorg verwyder moet word en daar is dikwels nie pleegouers beskikbaar om in sulke omstandighede ’n kind te beveilig en te beskerm nie,” sê Faurie.
“Honderde kinders, tussen 0 en 18 jaar, is op soek na ʼn liefdevolle huis, en voornemende pleegouers moenie bang wees om in te spring en ʼn verskil te maak nie. Kinderbeskermingsorganisasies het hul hande vol met gevalle en daarom wil Helpende Hand met hierdie veldtog ʼn platform skep waar voornemende pleegouers meer oor die proses kan uitvind. Die maatskaplike werk dienste van Helpende Hand beskik nie oor statutêre magte nie, en kan dus nie pleeg- of veiligheidsouers goedkeur of kinders beveilig nie, maar kan wel deur middel van hul pleegsorgplatform mense bystaan om hierdie waardevolle diens te lewer,” het die organisasie in ’n verklaring vandeesweek gesê.
Pleegsorg behels dat’n kind by gekeurde pleegouers geplaas word, nadat hy of sy deur die Kinderhof sorgbehoewend bevind is.
Redes vir die verwydering van kinders uit ouerlike sorg hou verband met onder meer fisieke, seksuele en/of emosionele mishandeling; fisieke en/of emosionele verwaarlosing; ernstige
gesinskonflik en gesinsgeweld; alkohol- en dwelmmisbruik deur die ouers; en onstabiele maatskaplike funksionering.
Faurie sê potensiële pleegouers worstel met baie vrae oor pleegsorg en dit verhinder hulle om hulself as pleegouers beskikbaar te stel.
Pleegsorg.co.za verduidelik in diepte wat pleegsorg behels en bied ʼn volledige uiteensetting van die pleegouer, die biologiese ouers sowel as die pleegkind self se regte.
Voornemende pleegouers, of persone wat hul huis as plek van veiligheid wil beskikbaar stel, kan ook op dié webblad registreer. Daarna word hulle in verbinding gebring met die onderskeie
geregistreerde kinderbeskermingsorganisasies wat die keuringsproses hanteer.
“Die uitdagings van pleegsorg moet nie gering geskat word nie. Dit is daarom noodsaaklik dat voornemende pleegouers deeglik gekeur moet word om seker te maak daar word holisties in die
behoeftes van die betrokke kind voorsien,” verduidelik Faurie.

Related Articles

Back to top button