News

Vrystaatse munisipaliteite dop oudit ver

Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslikeregeringsake, tree nie een van die vlakke van regering op soos wat die grondwet vereis nie.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het met ’n oudit van Vrystaatse munisipaliteite bevind dat die provinsie vrot vaar wat dienslewering betref. Die gebrek aan onlangse data vanaf die staat om belangrike aanwysers te meet, bemoeilik die situasie verder.
Soos in ander provinsies is aspekte soos die demografie, sosio-ekonomiese toestande, dienslewering en die bestuur van munisipaliteite gemeet. In die Vrystaat wissel die indrukspunt uit 10, van ’n skamele 4 in Dihlabeng (Bethlehem) tot 0,5 in Tokologo (Boshoff).
Dr. Eugene Brink, bestuurder van AfriForum se Sentrum vir Plaaslikeregeringsake, sê die beskikbare data toon ’n onrusbarende prentjie van hierdie eens trotse provinsie. “Die ouditeur-generaal (OG) se uitslae wys onteenseglik hoe swak die Vrystaat se munisipaliteite bestuur word. Sy betreur veral die gebrekkige leierskap wat tot die misbruik van fondse en vermorsing lei. Op die plekke waar AfriForum alleen toetse doen, is die drinkwater plek-plek van goeie gehalte. Die gehalte van vullisterreine en afvalwater is egter beroerd en toon selfs verdere agteruitgang.
“Soos ook bevind is in ons oudits van ander disfunksionele landelike provinsies soos Noordwes, is onderwys besig om te verbeter maar die werkloosheidskoers – veral onder die jeug¬ – bly hardnekkig hoog. Dit help nie dat meer mense matriek slaag as hulle nie kan werk kry nie. Onderwys is boonop nie ’n munisipale bevoegdheid nie maar ’n provinsiale een.”
Volgens Brink is daar groot verskille tussen die verskillende munisipaliteite se gehalte van dienslewering. “In die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit (Ficksburg en Senekal) het byvoorbeeld slegs sowat 15% van huishoudings toegang tot kraanwater in hul wonings teenoor sowat 65% in Metsimaholo (Sasolburg). Die syfer vir weeklikse vullisverwydering in Metsimaholo is 78,3% teenoor slegs 37% in Tokologo.”
Wat Brink veral bekommer, is die probleme in Mangaung (Bloemfontein). “Die data in hierdie verslag bevestig net weer dat dit die swakste metro in die land is. Groot bedrae word onreëlmatig bestee en vermors terwyl die stad se dienslewering allerweë berug en gebrekkig is.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button