News

Dapper klein vegtertjie uiteindelik weer by die huis

Op 13 Mei vanjaar het dié klein seuntjie sy tweede verjaardag gevier.

Die oupa en ouma-hart van Koos en Joy Opperman van Parys, juig nadat hul kleinseun, die 2-jarige JJ Meintjes, uiteindelik Maandag uit die Dihlabeng-hospitaal in Bethlehem ontslaan is.
Hy is sedert 17 Julie vir longontsteking behandel. Vir sy ouers was dit die grootste geskenk om weer hul dapper vegtertjie by die huis te kon hê, nadat hy vir die afgelope twee weke baie ernstig siek was.
Vir dié klein seuntjie wat op 13 Mei 2020 in die Parys-hospitaal gebore is, is hospitale nie vreemd nie. Die afgelope twee jaar moes sy ouers telkens langs sy hospitaalbedjie sit, nadat hy met ‘n hartdefek gebore is.
Met geboorte is hy vir vyf dae gehospitaliseer weens longontsteking. Hy was skaars vier dae by die huis, toe ‘n ernstig siek JJ weer in die hospitaal opgeneem is. Min het sy ouers toe geweet watter lang pad vir hul pragtige babaseuntjie sou voorlê. Dié keer is hy op suurstof gesit en oorgeplaas na die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad waar vasgestel is dat sy aorta vernou is, en dat daar ‘n gaatjie tussen sy hartkamers is.

JJ Meintjes in sy hospitaalbedjie waar hy vir 2 weke in die Dibhlabeng-hospitaal behandel is. Hy is vroeg vandeesweek ontslaan.

Op 12 Junie 2020, skaars ‘n maand oud, is hy in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein geopereer. Die operasie het goed afgeloop, maar in Augustus 2020 is JJ terug dokter toe, en het sy ouers die nuus gekry dat nog ‘n hartprosedure nodig sou wees om ‘n stent in te sit.
Einde November 2020 het JJ weer baie siek geword. Dié keer was ‘n dringende ope-hartoperasie nodig om die gaatjie tussen sy hartkamers te herstel wat groter geword het.
Voordat die operasie egter gedoen kon word, het JJ net al sieker en swakker geword, en was hy op ‘n ventilator in die intensiewe sorgeenheid.
Dokters het vasgestel dat hy die maagvirus, Clostridium Dificile, opgedoen het. Net voor nuwejaar 2020 kon JJ uiteindelik van die ventilator afgehaal word, en na ‘n gewone saal geskuif word. Sy ope-hartoperasie is geskeduleer vir 15 Januarie 2021.
Voordat hy die oggend in die teater ingestoot is, het die verpletterende nuus gekom – daar was weer komplikasies weens pulmonêre hipertensie wat sy lewe in gevaar kon stel as hy geopereer word. Uiteindelik is die operasie tog gedoen, en het hy moedig geveg en herstel.
Op 13 Mei vanjaar het dié klein seuntjie sy tweede verjaardag gevier. ‘n Klein wonderwerkie wat kan getuig van genade kanse, al lê nog baie doktersbesoeke voor, en is hy weens sy hartdefek maklik vatbaar vir infeksies.
En ouma Joy se woorde vandeesweek: “Ons klein meneertjie lyk beter. Dankie vir almal se gebede. Die klein mannetjie steel harte waar daardie 2 voetjies gaan.”

JJ se oupa en ouma, Koos en Joy Opperman, wat in Parys woon en die afgelope twee weke saam met soveel ander Parysenaars vir JJ gebid het. Foto’s: Verskaf.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button