CommunityLocal newsNewsTravel

Wat bly oor van ons treinstasies?

Parys en Potchefstroom treinstasies is huidiglik in puin.

Parys treinstasie het eens ‘n storie vertel van ‘n era toe treine nog die land vol geloop het. Geopen in 1930, het die stasie gespog met die mooiste stasietuin.

Die lyn tussen Dover en Parys is in 1905 gelê, die verlenging na Vredefort het later in die vroeë 1930’s gekom. Dit is amptelik in 2001 gesluit as deel van die sakeherstrukturering van Transnet.

Ná jare se hartseer verval van die eens prag stasiegebou, is dit na lang onderhandelings met Transnet uiteindelik meer as 10 jaar gelede aan die maatskappy Skyrail Edms (Bpk) verhuur wat as spoorlynspesialiste spoorlyne regdeur die land bou en herstel. Die stasiegebou met sy gewelaansig wat in 1930 voltooi is, is ook pragtig deur die maatskappy gerestoureer teen ’n koste van nagenoeg R300 000 oor ’n tydperk van meer as ’n jaar, waartydens onder meer al die vensterrame met hout vensterrame vervang is om as hoofkantoor van die maatskappy te dien.

Maar nou is die eens spog treinstasie net ’n bouval wat deel is van die statistiek van treinstasies in die land wat gestroop en geplunder word sonder hoop op herstel of vervolging van die skuldiges.

Potchefstroom treinstasie is ook nou net een van die statistieke. Gebou in 1897, was dit Potchefstroom se heel eerste treinstasie en het die stad aan Krugersdorp verbind. In 1919 is die stasie na die Kaaps-Hollandse styl opgradeer.

Ongelukkig het ‘n brand, waarvan die oorsprong nooit vasgestel is nie, die treinstasie in September 2020 verwoes en is die stasie nooit weer herbou nie.

Geen poging word gemaak om hierdie stasie te restoureer nie en het albei plekke onveilig geword. Wat eens ‘n toeriste-aantreklikheid was, is nou te onveilig om naby te gaan.

Parys treinstasie.
Potchefstroom treinstasie.

Related Articles

Back to top button