Local newsNews

Breinstimulasie wenke vir jou kleinding

Teen drie jaar oud, is die brein al 80% van sy uiteindelike volwasse grootte.

Navorsing het bewys dat hoe vroeër ons breine ingespan word en op die regte maniere gestimuleer word, hoe beter vir ons kognitiewe ontwikkeling. Veral in die eerste vyf jaar is ons kinders se breine soos sponse en elkeen van die 100 triljoen selle waaruit die brein bestaan, smag daarna om gestimuleer te word.

Die brein is ongelooflik en kan met reg beskou word as die liggaam se beheerkamer. Denke, beweging, taal en gevoelens word vanuit hierdie sentrale punt beheer. Teen drie jaar oud, is die brein al 80% van sy uiteindelike volwasse grootte.

Dit is juis waarom ouers aangemoedig word om sommer so jonk as drie maande al met breinstimulasie met hul kind te begin. Doen die volgende, maar hou dit ouderdomsgepas:
• Sintuiglike stimulasie. Stel jou baba bloot aan klanke, smake, reuke, visuele beelde of vorms.
• Beweging is noodsaaklik. Jou kleinding moet kruip, loop, klim en klouter.
• Lees vir jou kind. Vanaf drie maande oud. Dit doen wondere vir jou kind se taalontwikkeling.
• Noem ’n ding op sy naam en gesels met jou kind – vertel hom waarmee jy besig is en benoem kleure en voorwerpe.
• Speel musiek, sing liedjies en kleuterrympies, en dans sommer saam. So word albei kante van die brein gebruik.
• Gee jou kind verf, kwaste, kryte en dies meer en laat hy teken, plak en knip.
• Klei en blokkies. Klei speel en blokkies bou is “uitstekende heelbreinoefening omdat albei handjies moet saamwerk”. Boonop stimuleer dit logiese denke en hope kreatiwiteit.
• Verbeeldingspel. Daardie boks vol klere en interessante voorwerpe is ideaal om jou kind se verbeelding te prikkel. Fantasiespel stimuleer laterale denke.
• Kinders moet speel. Alleen en saam met maatjies. Hierdie sosiale interaksie is noodsaaklik. Dit ontwikkel jou kind se emosies, lyfie, woordeskat en denke.
• Ouditiewe geheue. Speel speletjies om dit te oefen, soos om ’n ritme te klap en hom e vra om dit te herhaal.

Related Articles

Back to top button