Local newsNews

MooiParys sit parkie nalatenskap voort

As jy voel om ook 'n bydrae te maak, gebruik die volgende bankbesonderhede: MooiParys, Absa, takkode 005920, rekeningnommer 410 5545 894. Jy kan ook vir Braam skakel by 072 779 4079.

Die span van die nie-winsgewende organisasie, MooiParys sal voortaan die bestuur en instandhouding van die Saligna-parkie oorneem. Die park met sy besondere speelarea vir kinders is die afgelope vyftien jaar met sorg en toewyding deur mnr. Dolf Lategan, danksy die bydraes van inwoners in die omgewing van die parkie onderhou en bestuur.

Paul Noome en Braam Cilliers van MooiParys saam met Dolf Lategan wat vir 15 jaar die Saligna-parkie onderhou het. By hulle is Dolf se regterhand, Johannes, wat saam met hom die parkie instand gehou het.

Met sy jarelange toewyding het hy die parkie in ‘n lushof omskep en sal die taak nou deur MooiParys voortgesit word wat vir die afgelope drie jaar merkwaardige werk in die dorp doen om die hoofstraat en middedorp skoon te hou. Naas vullis wat opgetel word, help die MooiParys-span om sypaadjie-gras te sny en onkruid met gifdoder te spuit. Daar is selfs al by herhaling in die ou begraafplaas skoongemaak, en die Weber-parkie in Eerstelaan opgeknap en skoongemaak met die hulp van borge. Verskeie gemeenskap skoonmaakaksies is ook gedryf.

Die Weber-parkie word na die regrukprojek nou deur die NG Suid-gemeente onderhou met die ondersteuning van MooiParys.
Wat merkwaardig is, sĆŖ Braam Cilliers van MooiParys, is dat die inisiatiewe van MooiParys die aansporing was vir verskeie inwoners en besighede om ook te help om die dorp te verfraai.

So is daar al heelwat Afrikaner-plantjies langs die dorp se hoofstraat geplant, en die hangbrug en omgewing opgeknap en skoongemaak deur Stephanie Fourie met die ondersteuning van borge. Ander inwoners hou hul strate netjies, help by die dorpsingange, in Allenbystraat en by die Rooidam. ‘n Rimpeleffek wat gesien word danksy ‘n handjievol inwoners wat besluit het – ons maak reg.

Dolf Lategan (middel), met die amptelike oorhandiging van die Saligna-parkie aan Braam Celliers van MooiParys (regs) Links is Paul Noome, ook van MooiParys.

So help jy MooiParys
Die afgelope jaar is reeds meer as R100 000 spandeer deur MooiParys om skoon te maak, en mooi te maak in die dorp.

Die grootste uitgawe vir die weeklikse skoonmaak is brandstof en arbeid en alleen deur die ondersteuning van borge kan voortgegaan word met die werk wat gedoen word. Hoekom skoonmaak as dit munisipale verantwoordelikheid is, sal jy vra? Die antwoord is eenvoudig. Parys se sakeondernemings en inwoners is afhanklik van toerisme as enigste inkomste vir die voortbestaan van die dorp. Hierbenewens skep die aksies van MooiParys die afgelope drie jaar al werk. MooiParys het reeds ‘n aansoek ingestuur vir befondsing vir die KykNet Lottoland Help ‘n Dorp-projek, en word daar gewag op uitslag op die aansoek.

As jy voel om ook ‘n bydrae te maak, gebruik die volgende bankbesonderhede: MooiParys, Absa, takkode 005920, rekeningnommer 410 5545 894. Jy kan ook vir Braam skakel by 072 779 4079.

Related Articles

Back to top button