News

Boesemvriende aan die brei vir prosteses

Sedert die projek in 2021 van stapel gestuur is, is daar al genoeg prosteses vir ongeveer 7 000 vroue gebrei.

Kranige breiers van reg oor die land is aan die brei aan nagenoeg 2 800 paar borsprosteses vir vroue wat hul borste weens kanker verloor het.

Sedert die projek in 2021 van stapel gestuur is, is daar al genoeg prosteses vir ongeveer 7 000 vroue gebrei. ‘n Klompie pare is Dinsdag ter viering van Borskankerbewusmakingsmaand tydens ‘n geleentheid by Solidariteit Helpende Hand se hoofkantoor in Centurion aan die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) oorhandig.

“Borskanker is ‘n siekte wat baie vroue reg oor die wêreld raak en ‘n diagnose wat geen vrou ooit wil kry nie. Sommige van hulle moet mastektomieë of ander borsprosedures ondergaan om die kanker te verwyder. Baie mastektomie-pasiënte wat dit kan bekostig, kry terselfdertyd ‘n borsrekonstruksie. Maar vir baie ander is dit ‘n droom wat finansieel onbereikbaar bly. Dit kan ‘n groot impak hê op hul selfbeeld en lewensgehalte. Daarom het Solidariteit Helpende Hand se *FroueVonds ons Boesemvriendinne-projek van stapel gestuur om hierdie vroue te help om hul waardigheid en selfvertroue te herwin,” het René Roux, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, by die geleentheid gesê.

“Die Boesemvriendinne-projek het met behulp van geld wat die gemeenskap en Finesse Voelgoed Tydskrif geskenk het asook USN se skenking van SOX Footwear-sokkies genoeg geld ingesamel om hierdie jaar 2 700 gebreide borsprosteses te lewer,” het sy gesê.

‘n Gebreide borsprotese is sag en lig en kan in enige gewone bra geplaas word. Dit word gemaak van 100% katoen wat asemhaal om hitte-uitslag en ongemak te voorkom. Dit is ook meer bekostigbaar en toeganklik as silikonprosteses wat warm, duur en swaar kan wees.

Roux het gesê Boesemvriendinne is ‘n deurlopende projek en sy hoop die Boesemvriendinne-projek kan volgende jaar in Oktober nog meer van die “gemaklike en relatief goedkoop” borsprosteses aan Kansa skenk. Sy het mense aangemoedig om aan te hou brei of die breiers te ondersteun deur vir hulle van die brei- of hekelpakkette teen slegs R60 elk te koop. Die Boesemvriendinne-projek gebruik ook die geldskenkings wat hulle ontvang om pakkette aan te koop en onder vrywillige breiers te versprei.

Sy nooi alle breiers wat vir ‘n goeie doel wil brei om met die Boesemvriendinne-projek kontak te maak. Sy het bygevoeg: “Ek het onderneem om ook te leer brei en saam te brei. Ek het nie eens ‘n idee waar om te begin nie, maar gelukkig bestaan elke breipakket uit die brei- of hekelpatroon, wol en vullingsmateriaal om ‘n paar prosteses te maak.”

Roux het gesê borskanker is ‘n skrikwekkende uitdaging, maar die Boesemvriendinne-projek bewys dat ‘n gemeenskap wat saamstaan om lyers te ondersteun dit vir diegene wat dit die nodigste het draagliker kan maak. “Die Boesemvriendinne-projek is nie net ‘n gebaar van liefde en omgee nie; dit het ‘n netwerk geword van ware vriendinne in Christus wat saamstaan om ‘n verskil te maak in ander vroue se lewe deur bloot net te brei. Laat ons dan ons breinaalde optel en laat ons brei!”

Vir meer inligting, om saam te brei of om ‘n pakket vir ‘n breier aan te koop, besoek www.boesemvriendinne.co.za vir meer inligting.

*”FroueVonds” word met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button