News

Leiwaterstelsel was ‘n groot bate

Die afgelope paar jaar was dit duidelik dat die onvermoë van die munisipaliteit om die stelsel te onderhou, 'n al hoe groter impak gehad het op leiwater voorsiening.

Sedert 2016 woon Anida Kotze en haar gesin regoor die Rooidam in Derdelaan. Dit was die dorp se leiwater wat haar laat besluit het om hier huis te koop met kleintyd se herinneringe van haar oupa, Manie Steyn, wat verantwoordelik was vir die instandhouding van Swellendam se netjiese leivore. Maar die afgelope vier jaar het Parys se leiwaterstelsel wat beskou was as ‘n wêreldklas stelsel, en juis een van die dinge wat uniek was aan die dorp, grotendeels tot niet gegaan. Dit weens ‘n gebrek aan instandhouding deur die munisipaliteit.

Die leiwater wat nou in die onderste gedeelte van die dorp gesien word vanwaar dit dan deur die middedorp loop, en weer terug in die rivier by die Sandgat in Rotarylaan, is afkomstig van ‘n vryvloeikanaal wat loop sonder die gebruik van ‘n pomp. Dit gee leiwater aan ‘n klomp mense wanneer dit goed beheer word deur die waterfiskaal, verduidelik DA rdl. Saal de Jager.

Die geskiedenis van Parys se leiwater:
Saal vertel dat ‘n damwal ongeveer in 1907 voltooi is wat gestrek het vanaf die Vrystaat na Transvaal met Gholfeiland in die middel. Die damwal het dit moontlik gemaak om aan boere aan die Transvaal-kant water te kon gee, en aan ongeveer 300 erwe in Parys. Die sukses is toe uitgebrei om aan meer inwoners in Parys leiwater te kon voorsien.

Daar is pompe geïnstalleer by die 1912 pompstasie in Oranjestraat vanwaar water deur middel van ‘n pyplyn na net onder die hospitaal gepomp is. Saal vertel dat die uitleg slim beplan is sodat water vandaar deur die bodorp kon vloei by die gevangenis verby na die Rooidam (Erasmusdam) in Derdelaan.

Na voltooing van die dam kon baie meer inwoners water ontvang deur middel van leivore wat vanaf die Rooidam gevloei het na alle erwe. Daar was ooreenkomste met huiseienaars dat munisipale waterfiskale toegang sou hê om hierdie kanale en voortjies skoon te maak. Op daardie stadium het almal ‘n jaarlikste bedrag betaal aan die munisipaliteit – of hul die water gebruik het, aldan nie. Selfs besighede in die dorp het betaal. Dit was ook ‘n vereiste met die ontwikkeling van alle nuwe erwe om die watervoor op hul onkoste te bou.

Saal vertel die enigste uitsondering was toe die Saligna en Oudewerf woongebiede ontwikkel is. Dié woongebiede het nie leivore gekry nie en dus ook nie daarvoor betaal nie.

Die leivore het baie mense toegelaat om groente en vrugtebome te plant. Dit was verseker ook ‘n trekpleister vir baie voornemende kopers vir eiendom in Parys.

Die afgelope paar jaar was dit duidelik dat die onvermoë van die munisipaliteit om die stelsel te onderhou, ‘n al hoe groter impak gehad het op leiwater voorsiening.

Gewoonlik is leiwater voorsiening van einde Mei tot begin September gestaak sodat ondehoud aan die leiwaterstelsel gedoen kan word, sê Saal.

Die laaste paar jaar is dié onderhoud glad nie gedoen nie. Die huidige span probeer egter met min werkers hul bes om die middelste voor, wat sonder ‘n pomp kan loop, skoon te maak.

‘n Huishouding gebruik gemiddeld 250 tot 500 liter skoon water per dag maar indien jy ‘n tuin wil onderhou verander hierdie prentjie maklik na 10 000 liter per dag. Gevolglik het leiwater vir jare ‘n baie belangrike rugsteun gevorm vir die dorp se drinkwater, sê hy.

Vandalisme by pompstasie:
Die huidige diefstal situasie van koper en metaal het twee weke gelede geweldige skade veroorsaak by die 1912 pompstasie. Dak sinkplate is gesteel, motors en windings van die hidrokragstasie is stukkend gekap om stukkies koper te verwyder, en hoewel daar verdagtes gearresteer is, betaal dit nie om die skade te herstel wat deur die diefstal veroorsaak is nie.

“Dit is baie belangrik dat hierdie besproeiingstelsel nie ten gronde sal gaan nie. Om water te suiwer vir huishoudelike gebruik het so duur geword dat dit in die toekoms onbekostigbaar sal raak vir ons om tuine ook nat te lei.

“Ek reken ander dorpe wat water soos ons direk uit die rivier kan onttrek, sal nog in die toekoms spesiale pyplyne vir tuingebruik installeer,” het Saal gesê.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button