News

Aansoeke sluit vir munisipale bestuurspos

Volgens die agenda van die raadsitting op 10 Julie 2023 moes Ngwathe die pos van munisipale bestuurder voor einde Julie adverteer, en moes daar teen dié tyd al 'n aanstelling vir 'n munisipale bestuurder gemaak word.

Aansoeke vir die pos van munisipale bestuurder vir die Ngwathe munisipaliteit sluit vandag, Donderdag 26 Oktober. Dit volg nadat daar al sedert Februarie voete gesleep word met ‘n aanstelling. Die pos was toe ‘n derde keer geadverteer nadat die vasgestelde tydsraamwerk waarbinne die vorige aansoekproses voltooi moes word, nie gehaal kon word nie.

Ngwathe raadslede het verlede week ook kop gekrap toe gehoor is dat die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. T. Manele, se kontraktermyn op 19 Oktober verstryk het. Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, het egter  in antwoord op ‘n skrywe van die Vryheidsfront Plus se rdl. Philip van der Merwe, gesê dat hoewel Ngwathe betyds aansoek gedoen het vir verlenging van die kontrak van mnr. Manele, die provinsie gesloer het. Sy het gesê die kontrak is intussen verleng. Teen Woensdagmiddag 25 Oktober het Gazette betroubaar verneem dat mnr. Manele oënskynlik toe nog gewag het op die brief om die verlenging van sy kontrak te bevestig.

Mnr. Manele is vroeër tydelik vir ‘n termyn van drie maande in die posisie aangestel op aanbeveling van die Vrystaatse provinsiale regering. Mnr. Manele is reeds die tweede munisipale bestuurder wat deur die provinsie gesekondeer is om by Ngwathe as munisipale bestuurder te kom waarneem na die skiellike 24-uur bedanking van Ngwathe se vorige munisipale bestuurder.

DA rdl. Arnold Schooonwinkel sê Ngwathe moes die provinsie se relevante politieke hoof versoek om mnr. Manele se kontrak te hernu, en was van die raadslede verbaas toe hulle verlede week hoor dat daar gesloer is. DA-koukusleier Carina Serfontein het dit benadruk dat die munisipale bestuurder van enige funksionele munisipaliteit die spilpunt is rondom wie effektiewe munisipale bestuur draai. Die party het ook vrae oor die munisipale bestuurder se kontraktermyn aan Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer-Mthombeni, gestuur.

Volgens die agenda van die raadsitting op 10 Julie 2023 moes Ngwathe die pos van munisipale bestuurder voor einde Julie adverteer, en moes daar teen dié tyd al ‘n aanstelling vir ‘n munisipale bestuurder gemaak word.

Rdl. Van der Merwe het in sy skrywe aan die burgemeester daarop gewys dat Ngwathe nie sonder ‘n munisipale bestuurder kan wees nie.

Related Articles

Back to top button