News

Niks om te red na brand by museum

“Daar is niks te redde nie. Die voorwerpe is verlore, daar was onvervangbare, unieke dokumente en voorwerpe,” het Clarke gesê.

 

Die Ampie Bosman Kultuurhistoriese Museum in Lichtenburg is in puin gelê na ’n brand Dinsdag 24 Oktober,  wat ook na die dorp se stadsaal versprei het.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het in sy verklaring na die voorval gesê dat volgens ‘n ooggetuie dit blyk  dat die brand in die museum ontstaan het.

Martin Clarke, bestuurder Parke en Begraafplase by die Ditsobotla plaaslike munisipaliteit, het Woensdagoggend 25 Oktober bevestig dat die hele museum afgebrand het.

“Daar is niks te redde nie. Die voorwerpe is verlore, daar was onvervangbare, unieke dokumente en voorwerpe,” het Clarke gesê.

Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK, het sy ontsteltenis oor die brand uitgespreek. Die kultuurnetwerke het al in die verlede uitgereik na die museum in ’n poging om hulp te verleen, maar die museum en munisipaliteit het nie gereageer nie, sê hy

“Ek het oor die laaste jaar en ’n half seker 7 keer by die museum aangedoen en voor dooiemansdeur gekom. Die laaste keer wat ek daar was, was daar nie krag of water nie en daar was reeds beduidende skade aan die voorwerpe, asook die uitstalkaste.

Die museum het kosbare dokumente en briewe gehuisves – briewe wat Generaal De la Rey self geskryf het, oorspronklike geskrifte van Siener van Rensburg, asook sy opvoustoeltjie. Wasmodelle van die uitstalling was destyds reeds besig om te smelt. Nog ’n groot tragedie is die verewa van Nonnie de la Rey waarmee sy vir die Engelse gevlug het tydens die Anglo-Boereoorlog. Daar was krygsgevangenekuns, verskeie Voortrekkeritems en die groot bronsbeeld van generaal De La Rey wat Anton van Wouw gemaak het.

“Dit is alles daarmee heen,” sê Müller.

Volgens ’n paramedikus by die Ditsobotla-munisipaliteit, Markus Pieterse, was die brandweer die hele tyd op die toneel en het die brand geblus.

“Toe ek daar opdaag, het ek saam met die brandweer gestop, hulle was daar met ’n tenk van 20 000 liter en ook nog een van 5000 liter. Dudfield Fire het ook met ‘n 10 000 liter tenk die brand probeer bestry. Daar was konstant water en die water het nie opgeraak nie totdat die brand geblus is,” het Pieterse aan die FAK bevestig.

Die FAK het vanuit verskeie oorde bevestiging gekry dat die brandweer wel water gehad het.

Die polisie is tans besig met ’n ondersoek om die oorsaak van die brand te bepaal.

Related Articles

Back to top button