News

Ngwathe se skuldput al dieper

Ngwathe se krediteure het in die periode van 1 April tot 31 Julie 2023 gegroei met 'n skokkende bykans R102,8 miljoen van R2 041 294 000,00 tot R2 144 294 000,00

Daarvan beloop die munisipaliteit se Eskomskuld alleen op 31 Julie reeds R1 825 210 00,00. Die syfer het intussen gegroei met nog nagenoeg R90,5 miljoen tot R1 915 787 639,00 op 30 September 2023.

Debiteure het daarteenoor in die periode van 1 April tot 31 Julie 2023 vermeerder met ongeveer R37,5 miljoen wat ‘n duidelike wanbalans in die groei van debiteure teenoor krediteure uitlig. Die kommerwekkende tendens en die Eskom-debakel is Vrydag tydens ‘n raadsitting vir die eerste kwartaal van die nuwe finansiële jaar bespreek waar items van die laaste kwartaal van die vorige boekjaar se finansies op die agenda was.

Ten opsigte van die Eskomkwessie het mnr. Ben Klopper van Tesourie die raad toegespreek, en hulp van tesourie se kant aangebied vir Ngwathe se spartelpogings om uit sy skuldmoeras te kom. Die Nasionale Tesourie hanteer tans ‘n proses waarvolgens munisipaliteite kan aansoek doen om afskrywing van Eskomskuld mits aan ‘n omvattende lys van vereistes voldoen word.

Onder die voorwaardes wat in die skuldverligtingsplan ingesluit is, is die bepaling dat munisipaliteite wat in aanmerking wil kom, onder meer hul lopende rekening getrou binne 30 dae vandat die maandelikse Eskom-faktuur ontvang is, moet betaal Die plan vereis ook dat munisipaliteite se tariewe ware koste moet verteenwoordig, en waar dit nie die geval is nie, aangepaste tariewe oor drie tot vyf jaar infaseer moet word. As munisipaliteite wat deelneem aan die skuldverligtingsplan vir 12 agtereenvolgende maande aan al die gestelde voorwaardes voldoen, sal die nasionale tesourie Eskom opdrag gee om ‘n derde van die munisipaliteit se skuld, wat ook boetes en rentes insluit, af te skryf.

Nadat daar vir 36 aaneenlopende maande aan die gestelde voorwaardes van die plan voldoen is, kan die munisipaliteit se volle agterstallige skuld selfs afgeskryf word.

Die VF Plus se rdl. Philip van der Merwe, het by die vergadering uitgewys dat die munisipaliteit se vermoë om streng skuldbeheer te kan toepas ernstige kommer wek. Hy is veral ook bekommerd oor die tesourie vereiste dat watervoorsiening verminder of gestaak moet word waar daar wanbeteling by verbruikers is, omdat dit waarskynlik sal meebring dat duisende watermeters vervang sal moet word met meters wat oor die kapasiteit beskik om verminderde toevoer te bewerkstellig.

Eweneens is daar kommer oor die vereiste dat slegs sogenaamde “smart meters” vir elektrisiteitsvoorsiening gebruik mag word. Die betrokke meters is duur en Ngwathe beskik tans nie eers oor fondse om gewone meters te kan vervang nie, sê hy. Dit blyk dat Tesourie tans besig is met ‘n ondersoek om maniere te probeer vind om munisipaliteite in die verband by te staan, maar dit is duidelik gestel dat daar tans bloot ‘n ondersoek is en geen verwagtinge daardeur geskep kan word nie. Nog ‘n aspek wat kwel is die vereiste van ‘n befondsde begroting. Met Ngwathe se huidige invorderingskoers van ongeveer 50% (en soms selfs minder) lyk dit nie haalbaar nie. Boonop blyk dit dat verwag sal word dat die munisipaliteit in die eerste van die drie jaar periode reeds 80% van sy begrote inkomste sal invorder.

Rdl. Van der Merwe sê hy betwyfel of die doelwit selfs met hulp van Tesourie bereik sal kan word, veral weens die kultuur van wanbetaling wat oor jare toegelaat was om homself te vestig.

Ook die DA sê dat die 14 Tesourie-voorwaardes vir Eskom-skuldverligting waaraan Ngwathe sal moet voldoen, grootliks berus op gesonde geldbestuur, waarop ook die DA al jare lank aandring sonder sukses. Die DA het by die vergadering gewaarsku dat Ngwathe sy finansiële herstelplan dringend sal moet verbeter en begin toepas.

* Die Nasionale Tesourie het Dinsdag aangekondig dat die spertyd vir provinsies en munisipaliteite om aansoek te doen vir Eskom munisipale skuldverligting, verleng word tot einde Oktober. ‘n Skrywe van die waarnemende munisipale bestuurder vir Ngwathe in antwoord op ‘n vraag van DA rdl. Arnold Schoonwinkel, het aangedui dat Ngwathe se aansoek om skuldverligting ingedien is by die tesourie.

Honderd ses en dertig van die 257 munisipaliteite in die land het teen 31 Maart Eskom ‘n verbysterende totaal van R58,5 miljard geskuld.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button