News

Talle beleef saam met familie die tragedie van Liebenbergmoorde

'n Belewenis wat tot elke sintuig gespreek het van hulle wat daar was, en vir dié vir wie dié klipkoppie buite Parys 'n seer dra wat vir altyd in harte ge-ets is.

Erfenismaand is die afgelope naweek op ‘n unieke en besondere wyse afgesluit by die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite Parys met ‘n lewende geskiedenis-uitbeelding van die tragiese gebeure 187 jaar gelede by Liebenbergskoppie aan die noordekant van die Vaalrivier, 6 km buite Parys.

In afwagting het talle toeskouers geluister na die boeiende vertelling van storieverteller Jan-Danie Malan wat sy plek ingeneem het op ‘n bankie in die digte skadu van ‘n lowergroen boom. Die ossewaens styf teen mekaar in ‘n laer getrek, en met doringtakke beveilig.

Lopers is gegiet, kruit in die sakkies, voorlaaigewere uit ñ vorige era gelaai en gereed gekry.
Met ñ blik op Liebenbergkoppie is die verhaal van die Liebenberglaer vertel, met van die Liebenberg-nasate wat spesiaal van ver gekom het om die geleentheid by te woon

Soos wat die gebeure van daardie dag in 1836 langs die Vaalrivier in herinnering geroep is, is die onverwagte, en bloeddorstige aanval herleef. Hartseer, maar ook met dankbaarheid vir die enkeles wat oorleef het te danke aan die voorbereidings wat getref kon word voor die aanval.

Jan-Danie Malan waar hy die tragiese gebeure by Liebenbergskoppie weer in herinnering gebring het. Foto: ChilliPicNic

Dramatiese musiek, assegaaie, knopkieries en skildvel het die aankoms van die Matabeles aangekondig. En toe klap die skote. Gewere word herlaai, en ook die vroue bring hul kant om die aanval af te weer. Die weerloosheid van die Voortrekkers in die wa-laer duidelik te sien.

Peet Roos wat hom ingeleef het in die vertelling.

Die Swartkruit Vereniging het verras met ‘n oorverdowende kanonskoot, en is die dramatiese voorstelling van die aanval by Liebenbergskoppie, afgesluit met ‘n indrukwekkende masjeer-vertoning deur die Seekadette.

‘n Belewenis wat tot elke sintuig gespreek het van hulle wat daar was, en vir dié vir wie dié klipkoppie buite Parys ‘n seer dra wat vir altyd in harte ge-ets is.

Daarna het die kospotte geroep, en kon die kinders laat spat in verskillende rigtings vir trekkerrit, kettieskiet, kleilat gooi, windbuks skiet – en vir die dapperes ñ skoot met ñ kanon.

Die museum op die Udolpho-terrein, Ouma se Huis, is druk besoek en het Horst Muller ñ interessante praatjie in die Anglo-Boereoorlog Saal aangebied om meer inligting oor die Liebenbergmoorde, en die raaisel van die ontvoerde Liebenbergkinders, te gee.

Die uitsonderlike dag is moontlik gemaak deur die personeel en bestuur van Udolpho, Kultuurnetwerke, die Swartkruitvereniging,die FAK in ‘n ondersteunende hoedanigheid, Jan-Danie Malan (Kultuuralorganiseerder ) en sy span vir die Voortrekkerdag. elke toeskouers wat daar was en die Liebenberg-nasate wat gedeel het in die hartseer herinneringe van hierdie gebeurtenis in die land se geskiedenis.

Van die Liebenberg-afstammelinge met die geskiedkundige Liebenbergskoppie aan die noordekant van die Vaalrivier ongeveer 6km buite Parys in die agtergrond. Foto: Christo Meyer.

Pieter Liebenberg het na afloop van die dag gesê dat die uitsonderlike voorstelling perspektief gegee het oor wat op hierdie tragiese dag met die aanval gebeur het. Hy en twee van sy broers en drie van sy susters het die besondere geleentheid bygewoon, saam met die kinders van een van sy susters. Pieter se ouers, Alfred Hendrik Liebenberg en Magrieta Johanna Catherina (Erasmus) Liebenberg, het 8 kinders gehad.

Pieter wat in Witbank gevestig is, en sy suster, Annetta Bosh van Bloemhof, het Liebenbergkoppie in Augustus besoek, vergesel van Christo Meyer en Horst Müller.

Die Liebenbergs se nageslag kan terug gevolg word tot by Christiaan Jacobus Liebenberg. Hy was ten tyde van die moorde op ‘n ekspedisie na die noorde, saam met Hendrik Potgieter om ‘n roete vir die trek te bepaal. Christiaan se vrou, Francina Maria Johanna Liebenberg, was egter in die Liebenberg-kamp, en het die aanval deur die Matabele Impi’s van Msilikaats oorleef, hoewel sy swaar gewond was. Christiaan Sr se pa was Barend Godliep Liebenberg wat saam met vier van sy seuns en een van sy dogters by die laer was ten tyde van die aanval, waarin Barend ook gesterf het.

Meer oor Liebenbergskoppie:
Lede van die trekgeselskap van Voortrekkerleier Barend Liebenberg is in ‘n aanval by Liebenbergkoppie op 22 Augustus 1836 vermoor. Hierdie slag is bekend as die Vaalrivier Slag en het vanaf die oggend 10:00 tot die middag om 16:00 geduur. Die kamp was egter beter voorberei en kon daarom behoorlik weerstand bied teen die aanslag van die Matabele.
Die terrein waar die Liebenbergs vermoor is, en waar die Slag van die Vaalrivier daarna plaasgevind het, is beide vandag op private grond, en word as sulks bewaar. Dit is dus nie toeganklik vir die publiek nie.
Tot onlangs toe was dit nie bekend waar die Liebenberg-grafte is nie. Die Genealogiese Vereniging van Suid Afrika (GVSA) het die grafte op die plaas Kopjeskraal ontdek ongeveer 10 km van die plek waar die moorde plaasgevind het. Daar is ‘n gedenksteen opgerig met ‘n inskrywing op ‘n klip wat vanaf die Liebenberg-koppie af daarheen gebring is. Op die terrein is dertien grafte wat met klippe gepak is sonder kopstukke.By Kopjeskraal was daar ook die kamp van Botha en Steyn teen die Vaalrivier wat die volgende dag, 23 Augustus 1836, aangeval is.
Die presiese ligging van die slag is nie bekend nie, maar daar is vyftien ander soortgelyke grafte 100 m oos van die Liebenbergs se grafte.

Related Articles

Back to top button