News

Kilometers se stap om sentrum te help

Onthou dat wanneer daar lootjies vir die Epilepsie Sentrum verkoop word, jy die amptelike stempel van Epilepsie op die lootjievorms sal sien. Mense wat vrae het is enige tyd welkom die sentrum by (056) 81 5959 te skakel

Vir die 56-jarige John Simpson gee niks hom meer vreugde as om sy deel te doen vir Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwessentrum.

Jaar na jaar loop hy die strate van Parys plat om sy deel te doen om fondse vir die sentrum in te samel, want dié sentrum
en sy mense is huis vir hom – al van 1987 af. Elke jaar stel hy vir homself ‘n doelwit en wanneer personeel ‘n idee het vir ‘n
fondsinsameling, is John vuur en vlam, en die een wat daad by die woord voeg.

Sy geesdrif is aansteeklik. Hy hou boek van elke sent wat hy insamel, en kan verslag doen oor elke jaar se fondsinsamelings.

In Augustus het hy weer R8 000 vir die sentrum ingesamel met lootjiekaartjies wat hy verkoop het vir gesondheidsbeskuit wat
vir die sentrum geskenk is om uit te loot. Die beskuit is gewen deur Eben Kriek.

Oor die afgelope 17 jaar het hy lootjiekaartjies vir van ‘n koek tot biltong geskenkpakke verkoop. Hy is juis nou besig
met lootjekaartjies vir ‘n R500 vleispak, en dan is daar in die komende maande ‘n biltonggeskenkpak en vrugtekoek wat
gewen moet word.

Die geld wat John op dié manier insamel, help weer om gaatjies by die sentrum toe te stop.

Vir Parysenaars is John geen onbekende nie. Toe die sentrum vroeër jare fondse ingesamel het met hul koekie-projek,
het Parysenaars hom week na week van besigheid tot besigheid sien loop – besig om koekies te verkoop. Toe die koekie-projek nie meer winsgewend was nie, het hy gesorg dat hy steeds daar was om te help waar hy nodig was.


John Simpson wys trots hoe hy boekhou van elke rand wat hy vir Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum, insamel.

Gedurende die Covid-grendelmaande is die sentrum finansieel baie swaar getref met fondsinsamelings wat toe nie gedoen kon word nie, en staatsubsidie wat eenvoudig net nie byhou by stygende kostes vir die bedryf van hierdie sentrum nie. Toe die
grendelgrense uiteindelik gelig is, was ‘n dankbare John terug in die strate van Parys
met sy lootjielyste, want ten spyte van sy eie gesondheidsuitdagings, glo hy dat hy ‘n verskil kan maak.

“Party dae kry ek snaakse mense, maar die meeste is goeie mense wat oor my pad kom, sê John. “Dit wat ek doen, maak my gelukkig,” sê hy dan met groot erns, en stap trots na die bankie waar hy sy sit kry in die sentrum-tuin. Sy plekkie.

Dankie aan elkeen wat getrou die Epilepsie-sentrum ondersteun, wat tyd met die sentrum se inwoners spandeer, en vir
hulle ‘n gemeenskap se omgee wys.

 

Related Articles

Back to top button