News

Dié is geen ‘bargain’ nie

Oppas maar as jy aanlyn inkopies doen

Is jy ook een wat vrek oor ‘n ‘bargain’. Of dit nou ‘n leer sitkamerstel, ‘n stel gholfstokke of ‘n paar valstande is – mense is ewig op soek na ‘n ou winskopie. Met Facebook en ander sosiale media platforms, is aanlyn kopies ‘n groot versoeking. Jy kan letterlik op jou selfoon blaai van die een ‘bargain’ na die ander.

Maar oppas! Naas diefstal is aanlyn bedrog en skelmstreke van die grootste misdaad waarmee die polisie te doene kry.
Mense koop en verkoop laat dit bars aanlyn, maar baie selde word die webtuiste of persoon wat die item verkoop se profiel nagegaan. Vergeet maar daarvan om die telefoonnommer of adres agterna op te spoor – skelms is baie meer uitgeslape as dit.
Weet maar – as iets te goed is om waar te wees, dan is dit.

As jy eers moet geld oorbetaal in ‘n rekening nog voor jy die produk gesien het, het jy klaar in die strik getrap as jy daarvoor geval het. En as jy eers gedruk word om te betaal voordat jy nog gesien het wat jy koop, en die verkoper maar skraps is met die inligting wat gegee word, moet jy maar weet jy gaan vir ‘n ‘sucker’ gevang word.

Oppas vir wie jy jou eenmalige pin, bankkaartnommer en ander besonderhede gee.
Onthou maar die gesegde van goedkoop koop is duur koop.

Betroubare webtuistes met goeie verwysings bly ‘n beter keuse as om by elke Jan en San wat jy nog nooit van gehoor het of gesien het, iets te koop op die internet. Skelms soek immers ook na ‘bargains’ en glimlag breed oor jou onkunde en blindelingse vertroue.

Related Articles

Back to top button