News

Gesloer met aanstelling vir Ngwathe se top bestuurspos

Solank 'n aanstelling vir die pos as munisipale bestuurder nie gemaak word nie, kan ook die munisipaliteit se vakatures vir nog drie van sy senior bestuur nie gevul word nie.

Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit is na maande se voete sleep om ‘n munisipale bestuurder aan te stel, nog nie ‘n treë nader aan ‘n aanstelling nie. Raadslede is tydens verlede week se spesiale raadsvergadering ingelig dat die proses vir die aanstelling van ‘n munisipale bestuurder van vooraf gedoen moet word, omdat maande lank gesloer is met die aansoekproses en die vasgestelde tydsraamwerk waarbinne die proses voltooi moes wees, nie gehaal is nie.

Gevolglik moet die pos ‘n derde keer geadverteer word, en die hele proses van begin tot einde herhaal word. Dit beteken dat binne veertien dae met ‘n aansoekproses begin moet word nadat die raad die proses goedgekeur het. Die vakature moet dan geadverteer word met aansoeke wat tussen veertien en dertig dae na plasing van die kennisgewing moet sluit. Dan is daar ‘n verdere 30 dae grasie om ‘n kortlys van geskikte kandidate saam te stel, en nog een en twintig dae om die nodige ondersoeke oor die agtergrond van die kandidate op die kortlys te doen. Sodra dié proses afgehandel is, is daar weer een en twintig dae om onderhoude met kandidate te voer, waarna aanbevole kandidate die nodige bevoegdheidstoetse moet aflê, sê VF+ rdl. Philip van der Merwe.

Die aanstellingskomitee moet dan ‘n verslag saamstel met aanbevelings vir die raad oor die aanstelling, en wanneer die raad ‘n besluit oor die aanstelling gemaak het, word die provinsie in kennis gestel. Meer as 93 dae wat Ngwathe met die vorige aansoekproses gehad het, maar nie kon deurvoer nie, al is ‘n aanstelling dringend nodig met Ngwathe se vorige munisipale bestuurder wat in Februarie met 24 uur kennis bedank het.

Nadat die pos aanvanklik geadverteer is, is gesê dat geen geskikte kandidate gekry kon word nie. Die Vrystaat provinsie het toe inderhaas ‘n munisipale bestuurder, mnr. T. Ngese gesekondeer om as munisipale bestuurder waar te neem om die munisipaliteit kans te gee om weer die pos te adverteer.

Sedertdien het sy waarnemingstydperk verstryk en sit Ngwathe weer met ‘n gesekondeerde munisipale bestuurder van die provinsie, mnr. Tebogo Manele.

Solank ‘n aanstelling vir die pos as munisipale bestuurder nie gemaak word nie, kan ook die munisipaliteit se vakatures vir nog drie van sy senior bestuur nie gevul word nie.

Dit sluit in die pos van hoof finansiële beampte, en die munisipaliteit se direkteurs vir gemeenskapsdienste en korporatiewe dienste, omdat die munisipale bestuurder ‘n leidende rol in die aanstellings speel.

Na verskeie kandidate wat as hoof finansiële beampte waargeneem het in die plek van mnr. Hopolang Mebusa wat in Julie 2022 bedank het, het die provinsie uiteindelik iemand vir die pos as hoof finansiële beampte moes sekondeer om waar te neem. Ook dié waarnemingstydperk van me. K.B. Lepesa het al op 13 September verstryk. Die raad het op 21 September ‘n versoek tot die LUR van Cogta gerig om die aanstelling met ‘n verdere drie maande te verleng, maar is dit onduidelik waarom die versoek nie vroeër voor die verstryking van die waarnemingstermyn gerig is nie.

In die direkteursposte neem senior bestuurders waar wie se waarnemingstermyne ook nou verstryk. Ook hier is dringende aanstellings nodig om kontinuïteit te verseker.

Related Articles

Back to top button