News

Daar’s goeie nuus vir Parys se slotte

'n Unieke en uitsonderlike kunswerk gaan gemaak word.

 

Die slotte wat verwyder is, sal vir die volgende drie weke  by Jacks Paint Waterstraat 25, Parys, gehou word waar mense wat slotte op die brug gehad het, dit  kan gaan afhaal, het Stephanie Fourie bevestig wat etlike weke gelede die inisiatief geneem het vir die herstel van die hangbrug en verfraaiing van die omgewing by die hangbrug.

Hoewel aanvanklik net van die erg geroeste slotte verwyder is om herstelwerk aan die brug te kan doen, was dit nadat daar Dinsdag begin is met die vervanging van die draad,  duidelik dat daar geen ander uitweg is as om al die slotte te verwyder nie om die nodige en baie uitdagende herstelwerk hier te kan doen.

Die slotte wat reeds afgehaal is het 205kg geweeg en is net ‘n kwart van die slotte wat nog afgehaal moet word.

Hoewel die brug al in die verlede ook deur vrywilligers geverf en hier netjies gemaak is, is herstelwerk van dié omvang in jare nooit gedoen nie.

Hier kan duidelik gesien word hoe groot die skade aan die veiligheidsdraad weerskante van die loopvlak van die brug is. 

Daar sal wel met voltooiing van die projek ook ‘n alternatief geskep word vir mense wat die brug besoek, om hul slotte daar te kan hang.

Die brug is vir jare een van Parys se grootste en gewildste toerisme-trekpleisters, en het menige paartjie oor die jare al met ‘n slot aan die brug ewige trou beloof. Ander weer het slotte  kom hang ter nagedagtenis aan ‘n familielid, of vir ‘n foto op die brug waar ‘n slot  gehang word met die datum waarop die toerismejuweel besoek is.

Die gewig van die honderde slotte aan die draad en brugkabels  wek al lank ook kommer.

Stephanie wat aanvanklik eers begin het om die R59 skoon te maak, het mettertyd die behoefte raakgesien om ook hier by die hangbrug reg te maak. Verskeie individue en sakelui het haar ondersteun en is daar uit eie sak etlike weke gelede begin om by die brug daagliks skoon te maak, slaggate te herstel, padmerke te verf, die verbleikte straatname op die sypaadjies by die brug weer oor te verf, skade wat vroeër vanjaar deur die vloed aan die rivierwal gemaak is, te herstel, en die hele brug te verf. Die toestand van die los metaalplate op die brug en die veiligheidsdraad was egter ‘n probleem, en is nadat toestemming gekry is, ook met dié groot taak vandeesweek begin.

Die verskil wat alreeds die afgelope weke gemaak is, sal jy nie glo nie!

Vandeesweek is reeds begin met die vervanging van die veiligheidsdraad op die voorste gedeelte van die brug.

En kyk net hoe netjies lyk dit alreeds waar gewerk is. 

Related Articles

Back to top button