News

Beloftes selfs leër as die droë krane

Naas Parys gaan ook ander Ngwathe dorpe soos Koppies en Vredefort gebuk onder ernstige waterprobleme weens totale wanbestuur en swak instandhouding.

Die Ngwathe munisipaliteit het steeds nie gereageer op herhaalde navrae van die Gazettte oor wanneer die kontrakteur begin met herstelwerk by Parys se watersuiweringsaanleg nie. Net ‘n doodse stilte. Selfs raads-lede se hande is afgekap met geen antwoorde wat deur die munisipale bestuur gegee word oor vordering met die dorp se waterkrisis nie. Intussen leef inwoners in ellendige omstandighede met die daaglikse watertekorte wat vererger word deur fase 6 beurtkrag wat vroeër vandeesweek ingestel is.

Tans word net tussen 4 en 5 van die 25 megaliter wat nodig is, daagliks by die dorp se watersuiweringsaanleg gesuiwer. Rioollyne verstop weens die ernstige watertekorte, en sal daar geen verbetering in die benarde situasie wees mits Ngwathe die beloofde herstelwerk aan sy swak-onderhoude en wanfunksionerende watersui- weringsaanleg in Parys doen.
Die eerste fase van die R60 miljoen herstelprojek wat met groot fanfare twee weke gelede deur Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, aangekondig is, moes vandeesweek begin het. Die belofte is trouens al met ‘n spesiale raadsvergadering einde verlede maand deur die burgemeester gemaak. Teen Woensdag was die kontrakteur steeds nie aan die werk nie.

Opposisieraadslede sê die herstelwerk gaan vanjaar dalk min of geen verbetering bring, tensy die ‘maklikste’ foute dringend en eerste reggestel word.

“Hiervoor vra ek, asook Save Ngwathe en AfriForum, reeds maande lank,” sê DA-raadslid Saal de Jager, en ook ‘n lid van die Infrastruktuurkomitee. Hy sê Parys se waterproduksie kan byna onmiddellik begin verbeter, mits sekere kleiner en goedkoop verbeteringe vinnig aangebring word. Hy sê kenners glo die werk moet begin deur byvoorbeeld twee lugpompe te her-stel, modderige filters te reinig, ongebruikte leë beddings met die regte filtermedium te vul, elektriese beheerpanele vir brugrotasie te vernuwe, gebreekte slik-uitlaatkleppe te vervang, en slegs korrekte chemikalieë te gebruik (anders as nou).” Hy het vandeesweek weer daarop aangedring dat dit eerste op die kontrakteur se taaklys moet wees.

Ngwathe se wateraanleg het die afgelope jare drasties agteruitgegaan met miljoene rand wat vermors is ten koste van die dorp se inwoners wat sonder water sit en uitgeloop het op die totaal onnodige waterkrisis waaronder Parys reeds twee jaar gebuk gaan.

Rdl. De Jager het ook weer gevra dat leiwater so gou moontlik beskikbaar kom om die druk te verlig met meer mense wat gedurende die somermaande tuine natlei ten koste van die reeds ernstige waternood.

Related Articles

Back to top button