News

Wen kaartjies vir die skreeusnaakse ‘Dinner for One’ by Etienne Rousseau

'n Skreeusnaakse komedie kan jy nie misloop nie!

Drie lesers kan elkeen ‘n dubbelkaartjie wen na Dinner for One by die Etienne Rousseauteater in Sasolburg op Sondag, 24 September om 15:00.  Om deel te neem aan Parys Gazette en Lefra se kompetisie, kan jy die volgende na 37338 SMS:

WEN DINNER, Parys, dan JOU NAAM EN VAN en dan JOU STAD OF DORP.  Dieselfde inligting kan ook per epos gestuur word aan wen@lefra.com met LEFRA & Parys Gazette DINNER KOMPETISIE as onderwerp.  Wenners sal telefonies gekontak word en die beslissing van die Redakteur is finaal.

Meer oor DINNER FOR ONE BY DIE ETIENNE ROUSSEAU-TEATER!

Dinner for One en die satiriese plaaslike weergawe Sopper vir Een word op Sondag, 24 September om 15:00 by die Etienne Rousseau-teater in Sasolburg op die planke gebring met Justin Strydom as James die Butler, en Elma Potgieter as Miss Sophie. Die opvoering in Sasolburg volg na ‘n reeks uitverkoopte vertonings regoor Suid-Afrika,

Dinner for One (ook bekend as The 90th Birthday), wat op TV nou al ‘n Oujaarstradisie is, het in Duitsland kultusfliek-status gekry nadat dit in 1963 in Hamburg verfilm is.  Dié uiters snaakse roomtert-komedie speel af in ‘n eeue-oue Britse herehuis, waar die laaste oorblywende lid van die familie, Miss Sophie, haar 90ste verjaardag vier. Die hele toneel vind in die eetkamer plaas, met Miss Sophie aan die koppenent van die tafel, en daar is vir haar ‘gaste’ – wat almal al dood is – plekke gedek.

Die butler, James, moet vir die gaste ‘n viergang-maaltyd bedien – en daar is vir elke gang ‘n drankie! Aangesien nie een van die gaste behalwe Miss Sophie in ‘lewende lywe’ daar is nie, dring Miss Sophie daarop aan dat James elke gas se rol moet speel (en dus al sy drankies ‘namens’ hom moet drink). “Same procedure as every year, James.”

Hoe later, hoe kwater, en James raak al hoër in die takke. Die spanning loop ook al hoe hoër elke keer as James nóg ‘n rondte om die tafel oorleef sonder om oor die “kop” van die tiervelmat te val.

As ‘n toegif voer Elma en Justin ná pouse Sopper vir Een op.  Die verrassing is dat Sopper vir Een die spot dryf met Dinner for One.  Elma speel dan die rol van die butler, en Justin dié van Miss Sophie. Sopper vir Een is deur Frans Swart verwerk om dit Suid-Afrikaans te maak.  “Die intrige is presies dieselfde – dis nog steeds ‘n verspotte jol!” sê Frans.  Maar ek het die tweede weergawe ‘versuidafrikaniseer’, en dit was baie groot pret!  Die gehoor gaan mal wees daaroor!  Die klassieke weergawe is so bekend, en die gehoor weet presies wat om te verwag, maar daar gaan ‘n hele klomp verrassings in die tweede weergawe wees”.

Elma Potgieter is bekend as onder meer aktrise, aanbieder, skrywer, taalpraktisyn, vertaler, woordkunstenaar, en skrywer van meer as vyftig Afrikaanse kortverhale en vier romans.  Meer onlangs was sy te sien in Lefra Produksies se klug My Oom se Vrou se Plekkie in 2019, nadat sy die vorige jaar inderhaas die rol in die klug Daa’ Gaat die Bruid! binne ‘n week moes oorneem.  In 2021 vertolk sy die rol van Mariana in Schalk Schoombe se eenvroustuk, Klipgebede.  Haar nuutste roman, Skerwe, is vroeër vanjaar vrygestel.

Justin Strydom is ‘n bekende televisie-, rolprent- en verhoogakteur en is tans onder meer te sien in die telenovela Diepe Waters in die rol van die swem-afrigter Gys Swarts.  Hy het Ak in Isidingo gespeel, waarvoor hy die SAFTA vir beste ondersteunende akteur 2015 gewen het en is genomineer vir ‘n SAFTA beste akteur 2017 vir Paul King in High Rollers.  Justin is ook ‘n stemkunstenaar, dosent, skrywer, regisseur en vervaardiger.  Ander televisierolle sluit in rolle in Egoli, Zero Tolerance, Generations, Jozi Streets, Scandal!, Song vir Katryn, The Res, Villa Rosa, 7de Laan en Binnelanders.

Besprekings vir Dinner for One en die satiriese plaaslike weergawe Sopper vir Eenkan aanlyn by www.ertickets.com gedoen word.  Besoek ook gerus www.dinnerforone.co.za vir meer inigting.

Die produksie is ook beskikbaar vir korporatiewe funksies of fondswerwingsaksies en word aangebied met die troste ondersteuning van die Etienne Rousseau-teater, Lefra Produksies, Ambassador Execudrive, Van Loveren Wyne, Hollywood Costumes, RSG, Lift, Britz Couriers and Removals en WS Pianos.

Die Etienne Rousseau-teater is in John Vorster-weg, Sasolburg

Besprekings: www.ertickets.com | www.dinnerforone.co.za

Besoek gerus www.dinnerforone.co.za vir meer inigting

Related Articles

Back to top button