News

SAKOV-streekvergadering sorg vir luisterryke musiekbelewenis

"Orrel speel is 'n baie eensame ding. Jy is altyd alleen agter die orrel. Dit is lekker om bymekaar te leer,"

‘n Luisterryke konsert met verskeie kunstenaars, het Vrydagaand 25 Augustus, die jaarlikse Suid-Afrikaanse Kerk- en Konsert Orreliste Vereniging (SAKOV) se streeksbyeenkoms wat op Saterdag 26 Augustus gehou is, ingelei. Met die konsert wat deur Erna Rademan in die NG Kerk Vredefort aangebied is, kon musiekliefhebbers die geleentheid kry om die orreliste wat die streeksbyeenkoms bygewoon het, ook agter die orrel te hoor.

Van die baie talentvolle optredes wat gehoor is, was dié van Theunis Marais, Franz Geldenhuys wat ook 2 pragtige arias gesing en saam met Erna twee duette op die orrel gespeel het, Gerhard Benade op die fagot saam met Theunis in werke vir orrel en fagot, Jana van Wyk wat Die Groot Mars van Aïda op trompet gespeel het met Erna agter die orrel, en bekende sopraan Lizette Combrink met haar uitsonderlike vertolkings van Kom dans Klaradyn, Heimwee en Oktober maand.
Verskeie ander orreliste het ook solo’s gespeel. Die konsert is deur ongeveer ‘n 100 mense bygewoon, en is daar heerlik saamgekuier om ‘n glasie sjerrie en sop.

Van links is Isabel Kruger (nuut verkose Vrystaatse streekverteenwoordiger vir
SAKOV), Marietjie Pienaar van Petrus Steyn wat op 88 steeds ‘n aktiewe orrelis is, en Erna Rademan (uittredende Vrystaat streekverteenwoordiger)

Tydens die Vrystaat streekbyeenkoms vir 2023 is Isabel Kruger gekies as nuwe streekverteenwoordiger. Een van die hoogtepunte van die dag was om die 88-jarige Marietjie Pienaar van Petrus Steyn wat nog aktief is as orrelis, te kon hoor speel. Al die orreliste wat wou het kans gekry om op die orrel te kon speel, en die mooiste klanke het die kerkgebou gevul met lede van die Deo Gloria-koor wat kom sing het, en orrelspel wat afgewissel is met instrumentespel van. Jana van Wyk op die trompet, oudioloog Susan Venter op die viool ,en Erna op die tjello en alt blokfluit.

Die hoofspreker, dr Johan Brink, ‘n afgetrede fisikus van die Universiteit van Stellenbosch het ‘n interessante en boeiende praatjie gegee oor die orrel in die geskiedenis. Hoewel hy self nie ‘n musikus is nie, het hy ‘n groot liefde vir die orrel. Interessant genoeg was die eerste orrel nie vir ‘n kerk gebou nie. Eers in die 1400’s het Constantin V ‘n orrel as geskenk aan koning Pepin gegee en was dit die eerste keer dat ‘n orrel in ‘n kerkgebou geplaas is.

By die jaarvergadering is praktiese raad gegee, mekaar moed ingepraat, na probleme geluister en oplossings probeer vind tussendeur die heerlike samesyn.

Erna het as uittredende streeksverteenwoordiger gesê dat hoewel sy uittree, sy altyd SAKOV sal ondersteun en promoveer. Sy het gesê die organisasie vervul ‘n baie belangrike rol vandag omdat daar steeeds mense is wat baie lief is vir die orrel en SAKOV namens hulle praat vir die bewaring van die orrel.

“Orrel speel is ‘n baie eensame ding. Jy is altyd alleen agter die orrel. Dit is lekker om bymekaar te leer,” het Erna gesê in haar afsluiting van ‘n besondere musiekbelewenis wat Vredefort die afgelope naweek besoekers kon bied.

Related Articles

Back to top button