News

Vreeslose brandbestryders red vee van vuurdood

Brawe brandbestryders van Working on Fire het in die middel van ‘n aankomende veldbrand hul eie lewe in gevaar gestel om die lewe van vee te red.

Brawe brandbestryders van Working on Fire het in die middel van ‘n aankomende veldbrand hul eie lewe in gevaar gestel om die lewe van vee te red.

Op Saterdag, 19 Augustus, het daar ‘n grootskaalse veldbrand in die middel van die weermagkamp langs die R53 (Ventersdorppad) uitgebreek, waartydens talle brandbestryders die vuur vanaf 10:00 die oggend tot laat daardie aand moes beveg.

Op ‘n stadium het die vuur teen 45 kilometer per uur langs die R53 beweeg met vee wat angsbevange probeer om van hierdie brand te ontsnap.

Dr. Kobus Roux, voorsitter van die Potchefstroom Brandbeskermingsvereniging, vertel hoe die brandbestryders op Saterdag, 19 Augustus, ‘n klomp beeste en bokke gered het deur hul weg van die vuur te jaag.

“Daar wei ongeveer 150 beeste in hierdie stuk van die weermaggronde. Van die manne het deur die draad geklim om die diere te probeer red, terwyl die vuur versprei het. Gelukkig was daar ‘n modderwatergat waarna die diere gehardloop het.

Hulle en van die brandbestryders was in hierdie gat toe die vuur verby hulle is. As dit nie vir hierdie gat was nie, sou daar baie meer skade wees. Dit was net genade dat daar geen lewensverlies was nie. Geen vee het ook seergekry nie,” noem hy.

Twee Working on Fire-spanne sowel as ‘n vastevlerk vliegtuig en helikopter was op die toneel om die brand te beveg wat ook geringe skade by die 4 Artillerie weermaggronde veroorsaak het.

Volgens Roux was dit belangrik om te keer dat die vuur nie oor die pad versprei na Potchefstroom se rigting van die R53, waar die vuur binne privaatgronde verder kon versprei nie.

Foto’s: Verskaf

“Die brand het ook bo-oor die Eleazerpad beweeg tot na Witrand maar die ouens kon die vuur toe onder beheer bring. Die manne het behoorlik baklei. Hulle is helde.”

Roux noem dat hy ook besig is om met die weermag te reël dat Working on Fire se span vereer word vir hul heldedade die afgelope naweek. Daar is ook berading deur die stadsraad vir die Working on Fire-spanne gereël.

Related Articles

Back to top button