News

Emosiebelaaide dag vir familie van vermoorde Liebenbergs

Die Parys Museum in samewerking met die Parys inligtingskantoor is van voorneme om 'n inligtingstuk op te stel oor die spesifieke gebeure rondom die Liebenberg moorde en die Slag van die Vaalrivier.

‘n Baie emosionele oomblik het hom Saterdag by die geskiedkundige Liebenbergkoppie net buite Parys afgespeel, toe twee direkte afstammelinge van die Liebenbergs die koppie besoek, en ‘n krans gelê het waar Voortrekkerleier Barend Liebenberg en sy trekgeselskap, byna op dag en datum, 187 jaar gelede vermoor is.

Pieter Liebenberg van Witbank en sy suster, Annetta Bosh van Bloemhof, wat die koppie aan die noordekant van die Vaalri- vier, ongeveer 6 km buite Parys besoek het, was vergesel van Christo Meyer en Horst Müller. Liebenberg en Bosh se nageslag kan terug gevolg word tot by Christiaan Jacobus Liebenberg. Hy was ten tyde van die moorde op ‘n ekspedisie na die noorde, saam met Hendrik Potgieter om ‘n roete vir die trek te bepaal. Christiaan se vrou, Francina Maria Johanna Liebenberg, was egter in die Liebenberg-kamp, en het die aanval deur die Matabele Impi’s van Msilikaats oorleef, hoewel sy swaar gewond was.

Die meeste van die Liebenberg-trekgeselskap het in die aanval gesterf.

Vir Pieter en Annetta was die kranslegging by die koppie ‘n besonder emosionele gebeurtenis, met ‘n paar woorde ter nagedagtenis aan die Liebenberg-familie en ‘n gebed deur Pieter. Daar is ook kortliks vertel van die tragiese gebeure wat die nag van 22 Augustus 1836 hier by die koppie afgespeel het.

Pieter Liebenberg en sy suster, Annetta Bosh op die geskiedkundige Liebenberg-koppie, waar hulle die afgelope naweek ‘n krans gelê het vir die Liebenberg-familie wat hier vermoor is.

Pieter en Anenetta het verskeie ander verwante plekke besoek toe hulle die naweek in Parys was. Die eerste was die plek waar die grafte van die Liebenbergs is. Tot onlangs toe was dit nie bekend waar die grafte is nie. Die Genealogiese Vereniging van Suid Afrika (GVSA) het die grafte op die plaas Kopjeskraal ontdek ongeveer 10 km van die plek waar die moorde plaasgevind het. Daar is ‘n gedenksteen opgerig met ‘n inskrywing op ‘n klip wat vanaf die Liebenberg-koppie af daarheen gebring is. Op die terrein is dertien grafte wat met klippe gepak is sonder kopstukke.

By Kopjeskraal was daar ook die kamp van Botha en Steyn teen die Vaalrivier wat die volgende dag, 23 Augustus 1836, aangeval is. Hierdie slag is bekend as die Vaalrivier Slag en het vanaf die oggend 10:00 tot die middag om 16:00 geduur. Die kamp was egter beter voorberei en kon daarom behoor- lik weerstand bied teen die aanslag van die Matabele.
Slegs twee van die trekgeselskap, en ‘n aantal bediendes het in die aanval gesterf. Die presiese ligging van die slag is nie bekend nie, maar daar is vyftien ander soortgelyke grafte 100 m oos van die Liebenbergs se grafte.

Die terrein waar die Liebenbergs vermoor is, en waar die Slag van die Vaalrivier daarna plaasgevind het, is beide vandag op private grond, en word as sulks bewaar. Dit is dus nie toeganklik vir die publiek nie. Die Parys Museum in samewerking met die Parys inligtingskantoor is van voorneme om ‘n inligtingstuk op te stel oor die spesifieke gebeure rondom die Liebenberg moorde en die Slag van die Vaalrivier. Mense wat meer inligting wil hê is welkom om die Parys Info-kantoor by (056) 811 4000 te skakel.

Related Articles

Back to top button