News

Ngwathe se bestuurskrisis die grootste rede vir sloering met oplossing vir waterprobleme

In Mei vanjaar al het die MEC van Cogta, mnr. Ketso Makume, na sy besoek aan Parys se watersuiweringsaanleg, die aanleg in 'n TV-onderhoud as 'n 'misdaadtoneel' beskryf, en gesê dat die Ngwathe munisipaliteit en departement van waterwese volstoom moet werk aan 'n omkeerstrategie om te verseker dat areas wat nie water het nie, skoon drinkbare water kry. Vele vergaderings later sit die dorp se inwoners egter steeds daagliks met droë krane.

Die minister van waterwese en sanitasie, minister Senzo Mchunu, het verlede week aanvanklik eers die koue skouer gedraai toe die Vryheidsfront Plus aangedring het op antwoorde oor Parys se voortslepende maandelange waterkrisis, en gepaardgaande kragnood, en toe later in ‘n brief gesê dat projekte van sy departement om in te gryp in die krisis, vertraag word deur Ngwathe se bestuurskrisis.

Hy het ook kritiek gehad teen amptenare van die Ngwathe munisipaliteit wat hy gesê het nie verbind is tot die proses om die krisis op te los nie.

Die brief wat vandeesweek aan die Vryheidsfront Plus gestuur is, het gevolg nadat die minister se kantoor verlede week per e-pos aanvanklik geantwoord het dat die party se vrae nie nou beantwoord sal word nie, maar gevra kan word tydens die volgende parlementêre sitting in September.

Die Vryheidsfront Plus L.P, Me Tammy Breedt, het verskeie vrae aan die minister gerig na aanleiding van sy vroeëre besoek aan die dorp se waterwerke en aangedring op nasionale ingryping.

Sedert die minister se besoek aan die dorp het nog niks vir inwoners van dié Vrystaatse dorp verander in hul daaglikse stryd vir water en krag nie, met gedwonge rotasie beurtkrag wat bo en behalwe nasionale beurtkrag toegepas word.
Die reeds kritieke munisipale watervoorsieningsprobleme in die dorp word vererger deur die kragkrisis.

Toe die minister net meer as ‘n maand gelede met verteenwoordigers van die Ngwathe munisipa- liteit, departement waterwese en sanitasie, en AfriForum vergader het, het hy onder meer aangedring dat die munispaliteit dadelik ‘n kragopwekker by sy suiwerings- aanleg moet kry, en sekuriteit by die suiweringsaanleg opgeskerp moet word.
In ‘n skrywe die afgelope naweek sê Vryheidsfront Plus rdl. Phillip van der Merwe, dat die party die frustrasie deel wat Parysenaars tans beleef met die uitdagings rondom krag en watervoorsiening.
Hy sê raadslede word nie ingelig oor die oorsake van die huidige krisis nie, en word ook nie deur die ANC meerderheidsregering geleentheid gegee om insette te gee wat die probleme kan oplos of minstens verbetering kan bring nie.
“Sulke insette is alleen moontlik wanneer die munisipale werks-komitees sit wat tans, ten spyte van ons volgehoue aandrang, eenvoudig nie gebeur nie” sê hy verder.

Me. Breedt het in reaksie op die minister se aanvanklike terugvoer op die vrae, beswaar gemaak en die kwessie verder geëskaleer na beide die minister van elektrisiteit en die adjunkpresident.

Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, het verlede week op ‘n vraag van Gazette oor vordering met die aankoop en installasie van ‘n noodkragopwekker vir die suiweringsaanleg, en die beloofde opgradering van die aanleg, aangedui dat daar verwikkelinge is en dat die media voor die einde van die week genooi sal word na ‘n inligtingsessie. Sy het egter nie uitgebrei oor wat die verwikkelinge is nie.

In Mei vanjaar al het die MEC van Cogta, mnr. Ketso Makume, na sy besoek aan Parys se watersuiweringsaanleg, die aanleg in ‘n TV-onderhoud as ‘n ‘misdaadtoneel’ beskryf, en gesê dat die Ngwathe munisipaliteit en departement van waterwese volstoom moet werk aan ‘n omkeerstrategie om te verseker dat areas wat nie water het nie, skoon drinkbare water kry.
Vele vergaderings later sit die dorp se inwoners egter steeds daagliks met droë krane.

Related Articles

Back to top button