News

Mesaanval: My kind kon dood gewees het

Mooirivier Beskerming het vroeër op hul digitale platforms gesê dat 'n toename in rooftogte en misdaad waar studente geteiken word, gesien is.

‘n Oudskolier van Parys, Enrico de Swardt, is verlede week herhaaldelik met ‘n mes gesteek en van sy skootrekenaar en selfoon beroof, reg by die ingangshek van sy woonstelkompleks naby die Lavaria Dameskoshuis op die Bult in Potchefstroom.

Enrico, ‘n tweedejaarstudent in aptekerswese aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, vertel dat hy vroeër die aand by ‘n vriendin gekuier het. Kort voor middernag het hy die 200 meter huis toe gestap na sy woonstelkompleks. Hy was op sy selfoon besig met ‘n oproep, toe hy twee mans na hom sien stap het. Hulle het aan sy rugsak begin ruk en hom toe herhaaldelik met ‘n mes gesteek. Enrico het geval, maar kon weer regop kom.

“Dit was net die Here se genade dat sy sleutels nie in sy rugsak was nie,” vertel sy ma, Ronel. Enrico kon die kompleks se hek oopmaak en dit weer vinnig toekry om weg te kom van sy aanvallers.

Een van die messteekwonde wat Enrico in die aanval opgedoen het.

Sy broer met wie hy ‘n woonstel in die kompleks deel, het hul ouers gebel en Enrico hospitaal toe geneem waar hy vir die steekwonde aan sy been, tussen sy ribbes en onder sy arm behandel is.

“My kind kon dood gewees het,” sê Ronel. Die steekwond by sy ribbes het sy long rakelings gemis, terwyl die wond onder sy arm baie naby aan ‘n hoofslagaar was.

Sy aanvallers is steeds nie gekry nie, maar sekuriteitskameras van Mooirivier Beskerming het gewys dat die mans vroeër in Steve Biko-rylaan waar die voorval gebeur het, afgelaai is.

Die kompleks se eie sekuriteitskameras wat na die palissadeheining gedraai is, het nie die aand van die voorval gewerk nie.
“Jy weet as iemand jou daardie tyd van die nag bel, is daar fout,” sê Ronel.

“Jy dink Potchefstroom is veilig. Dat dit nie met jou kinders sal gebeur nie. Ek wil net ander studente waarsku om eerder in groepe te loop en bedag te wees op hul omgewing,” waarsku Ronel. “Dat Enrico leef is net ‘n baie groot genade.”

Mooirivier Beskerming het vroeër op hul digitale platforms gesê dat ‘n toename in rooftogte en misdaad waar studente geteiken word, gesien is. Hulle het studente aangemoedig om die selfoontoepassing Buzzer te gebruik in geval van nood, en om verdagte optrede of noodgevalle te rapporteer. Hulle raai ook studente aan om eerder in groepe te beweeg, en waaksaam te wees te alle tye. Moenie dat musiek of jou selfoon jou aandag aftrek van jou omgewing nie. Skakel ‘n vriend of vriendin om jou te kom oplaai by ‘n kuierplek omdat studente dikwels geteiken word juis wanneer hulle ‘n kuierplek verlaat. Vermy swak beligte en verlate plekke, asook verdagte voertuie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button