News

Kontakklasse by NWU opgeskort oor vertraging met NSFAS betalings

Die besluit om onmiddellik kontakklasse op al drie die NWU se kampusse op te skort  sal geld tot verdere kennisgewing.

 

 

 

Die besluit is geneem na onlangse verwikkelinge rondom NSFAS-studente en die NSFAS-diensverskaffer, Norraco, se direkte betaling-sisteem van toelaes aan NSFAS-begunstigdes. Daar is tans ‘n vertraging van betalings aan hierdie studente.

Gazette se susterskoerant, die Potchefstroom Herald het vroeër berig dat die  Kampus Studenteraad nie ten gunste van NSFAS se direkte betalingsisteem was nie.

NWU woordvoerder Louis Jacobs het gesê daar is herhaaldelik gewaarsku dat die situasie sal gebeur, maar dat die NWU se advies geïgnoreer is. Hy sê die NWU het simpatie met sy studente, veral die NSFAS-begunstigdes wat deur die betalingsvertragings geraak word.

‘n Skrywe wat Maandag, 31 Julie op die NWU se webblad geplaas is, lees dat die universiteit sal voortgaan om meer druk op die betrokke strukture, insluitend NSFAS en Norraco, te plaas om ‘n volledige oorhandiging en implementering van direkte betalings, of ‘n ernstige oorweging van ander lewensvatbare en volhoubare alternatiewe te verseker.

“Ons erken die studente se frustrasies en die impak wat die vertragings, wanbetaling en derdepartystelselprobleme op die NSFAS-begunstigdes en die akademiese program het. Ons het reeds van die ongelukkige voorvalle gesien wat vandag, 31 Julie 2023 oor ons kampusse gebeur het. Ongelukkig is ‘n besluit oor die oorname van direkte betalings van universiteite deur NSFAS geneem en soos voorheen gekommunikeer, is die NWU ontmagtig deur hierdie proses,” noem Jacobs.

Maandag 31 Julie kon ongeveer 90% van die NWU NSFAS-begunstigdes tegnies toegang tot hul fondse kry, mits die Norraco-stelsel funksioneel was. Dit is begunstigdes wat reeds aan boord is.

Jacobs het gesê dit is belangrik vir die NWU om die 2023 akademiese jaar suksesvol af te sluit Tot verdere kennisgewing sal klasse nou aanlyn aangebied word.  Dosente is gevra om die onderrigmateriaal en opnames aanlyn te publiseer vir studente om af te laai, en met die akademiese program voort te gaan.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button