News

Voormalige provinsiale verkeershoof was geliefd in sy gemeenskap

Die gedenkdiens vir Louis word Vrydag, 21 Julie om 11:00 vanuit die NG Kerk Parys-Wes gehou.

Louis van Zyl, ‘n voormalige hoof van provinsiale verkeer in Parys, wat die afgelope sowat 30 jaar ‘n bekende gesig in die dorp was, is op 16 Julie na ‘n kort siekbed in Mediclinic Potchefstroom oorlede. Hy was 84 jaar oud.

Louis het aanvanklik eers vir die Suid-Afrikaanse poskantoor gewerk, en toe verkeersbeampte geword. Hy het daarna vir jare vir die administrateur van die Vrystaat gewerk, voordat hy en sy gesin in 1994 na Parys verhuis het. In Parys het hy vir sowat tien jaar die pos as hoof van provinsiale verkeer beklee, voordat hy afgetree het, maar selfs daarna was hy nie een vir stilsit nie. Hy het onder meer oor die jare by die destydse AB’s grassnydienste, Parys grassnydienste, Jabulani, Ditjies & Datjies en Vicor uitgehelp. “Jy kon nie waag om saam met hom dorp toe te gaan nie, skerts sy dogter, Amelda, want saam met Louis kon dié uitstappie ure neem.”

Hy was ‘n mense-mens wat waar hy gekom het, nie sou stop sonder om eers ‘n geselsie aan te knoop nie. Hy het almal geken, en sy lag sou jy oral hoor. In Bredelstraat waar hy sedert sy intrek in die dorp gewoon het, is hy dikwels na verwys as die ‘burgemeester van Bredelstraat’, want menige huis en troeteldiere het hy opgepas wanneer sy mede-straatbewoners vir die naweek of vakansie weg sou wees. Selfs om te help om van die bure se kinders rond te ry of op te pas, was nooit té veel gevra nie.

Die gedenkdiens vir Louis word Vrydag, 21 Julie om 11:00 vanuit die NG Kerk Parys-Wes gehou.

Louis sal in liefdevolle herinnering onthou word deur sy vrou, Hettie met wie hy 58 jaar getroud was, sy kinders Johann en Amelda, vyf kleinkinders en drie agterkleinkinders, asook sy broer en familie. Op Facebook is talle boodskappe van medelye na sy dood geplaas waarin hy beskryf is as iemand wat altyd vriendelik en gereed was vir ‘n grappie. “Parys het ‘n groot gees verloor en is verseker armer sonder Louis van Zyl. Hy was ‘n voorbeeld van hoe om blymoedig te leef.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button