News

Ngwathe kry weer ‘n nuwe bestuurder

Die gesekondeerde munisipale bestuurder sal waarneem in die pos totdat 'n aanstelling gemaak is.

Die Vrystaat provinsie het weer ‘n nuwe munisipale bestuurder vir die Ngwathe munisipaliteit gesekondeer. Tebogo Manele sal van Maandag, 24 Julie in die bestuurstoel sit, nadat sy voorganger, mnr. T. Ngese, wat ook deur die provinsie gesekondeer was om in die pos waar te neem, se termyn op 30 Junie verstryk het. Manele sal as munisipale bestuurder waarneem totdat ‘n aanstelling in die pos gemaak is.

Die Ngwathe munisipaliteit is al vir maande in ‘n ernstige bestuurskrisis gedompel met die skiellike bedanking van sy vorige munisipale bestuurder, me. Nonhlanhla Baleni. Die krisis word selfs vererger deur die poste van hoof finansiële beampte, en die direkteure van gemeenskapsdienste en korporatiewe dienste wat ook na maande steeds nie gevul is nie.

Die raad sou vandag tydens sy sitting oorweging gegee het aan kandidate wat voorgestel is vir die poste van direkteur gemeenskapsdienste en korporatiewe dienste onderskeidelik, omdat die kandidate wat in dié poste waargeneem het, se drie maande aanstellingstermyn ook op 30 Junie verstryk het.

Die kandidate wat  oorweeg kan word, is mnre. E.C. Pule of B. Netshivhodza om waar te neem as direkteur gemeenskapsdienste, en J.S. Caleni, B.M. Mlotshwa en M.E. Motha wat oorweeg  kan word om waar te neem in die pos as direkteur korporatiewe dienste. Voorskrifte vir die aanstelling van waarnemende direkteure vereis dat die raad met die munisipale bestuurder moet konsulteer voordat enige aanstellings gedoen kan word.

Volgens Vryheidsfront Plus raadslid Phillip van der Merwe, het die waarnemende munisipale bestuurder wel die raadsvergadering bygewoon, maar was daar te min tyd om voldoende met hom te kon konsulteer oor die aanstellings, en is die aanstellings van die twee direkteure na ‘n volgende vergadering verwys. Die verwagting is dat daar waarskynlik binnekort ‘n spesiale raadsvergadering hiervoor aangevra sal word.

‘n Gesekondeerde provinsiale amptenaar neem tans in die sleutelpos as hoof finansiële beampte waar.
Met die onlangse tydelike skorsing van die direkteur van tegniese dienste (die enigste oorblywende permanent aangestelde senior bestuurder), beteken dit dat ook dié pos nou gevul word deur ‘n senior bestuurder wat net waarneem as tegniese direkteur.

Rdl. Van der Merwe het vroeër gesê die gebrek aan kontinuïteit in Ngwathe se topbestuur veroorsaak groot ontwrigting.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button