News

Dit is wat Parys kan doen met dié Kwêla miljoen

MooiParys se projekte is daarop gemik om vir die hele gemeenskap en sakelui tot voordeel te wees, en sal die oorhoofse projek wat met die wengeld aangepak sal word (sou Parys wen), wees om Parys, Tumahole en Schonkenville te verfraai, herstel en instandhoudingswerk te doen.

Vanaf hierdie Sondag, 16 Julie om 20:00 tot 21 Julie om 12:00 kan jy stem vir Parys as vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar. Dié dorp is reeds as vanjaar se Vrystaatse streekfinalis aangewys. Om te stem moet jy (maar eers vanaf 16 Julie na 20:00) die woord, Parys, SMS na 33157. Dertig stemme per SMS-nommer word toegelaat. Die koste is R1,50 per SMS. Gratis SMS’e geld nie en foutiewe SMS’e sal ook verreken word.

Maar hoekom stem vir Parys, vra jy?
Die toekenning as Dorp van die Jaar gaan nie oor munisipale dienslewering nie. Dit gaan oor wat die dorp uniek maak, die mooi van die dorp, en dit wat Parys sy besoekers bied.

Wat wag vir die wendorp?
Sou Parys wen wag daar ‘n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde vir die dorp, en met dié advertensiewaarde kan dit help om selfs meer besoekers na die dorp te lok. ‘n Toerisme inspuiting wat Parys baie nodig het omdat die dorp suiwer van toe-risme afhanklik is vir sy voortbestaan.

Dink net ‘n hele 45 sekonde advertensie oor die dorp gemaak deur Homebrew Films wat op kykNet uitgesaai sal word. Hoeveel voete kan dit nie vir besighede in Parys bring nie.

Maar wag hier is nog…Daar is ook die groot makietie feesviering en musiekkonsert wat in die wendorp gehou word…. en lees mooi – R1 miljoen in kontant om die dorp te verbeter en te verfraai. Dit danksy Lottoland wat ‘n miljoen vir die wendorp bewillig.

Die nege finalisdorpe is gevra om besigheidsplanne in te dien met ‘n begroting van hoe hulle die prysgeld wil spandeer. Die geld sal nie aan ‘n munisipaliteit betaal word nie, maar aan die instansie wat die veldtog in die wendorp dryf. In Parys se geval het MooiParys die veldtog gedryf. Die proses om ‘n spesifieke projek in die dorp aan te pak, sal deeglik geoudit word, en deurgesien word deur Lottoland tot die projek suksesvol afgehandel is.
Kwêla sal kykers ook op hoogte hou van wat die Wendorp met hul R1 miljoen kontant doen om die dorp te verbeter.

Wat en wie is MooiParys
MooiParys is in November 2020 deur Braam CIlliers saam met ‘n handjievol mense begin met die gedagte om weekliks die dorp se hoofstraat skoon te maak. Dit is gedoen met die hulp van skenkings om vir die vullissakke en arbeid te betaal. Braam se droom was om soveel mense moontlik betrokke te kry om ‘n blywende bydrae te lewer om die dorp skoon te hou. Oor die afgelope drie jaar het die aksie momentum gekry en verskeie besighede en vrywilligers het betrokke geraak. Daar is ook gemeenskapskoonmaakprojekte gehou waaraan oud en jonk deelgeneem het.

Die Parys Dorp van die Jaar komitee bestaan uit Braam Cilliers (MooiParys), Werda Visser (Parys Info & Tourism), Marietjie le Roux (MooiParys), Johan en Annemarie Smit (MooiParys), Schalk Bur-ger (AfriForum), Selma Kok (Vaal Action Group), en Ras Botma, Paul Noome, Hester de Wet en Leonie Kotze (addisionele lede, MooiParys).

Wat wil MooiParys doen?
MooiParys se projekte is daarop gemik om vir die hele gemeenskap en sakelui tot voordeel te wees, en sal die oorhoofse projek wat met die wengeld aangepak sal word (sou Parys wen), wees om Parys, Tumahole en Schonkenville te verfraai, herstel en instandhoudingswerk te doen. Dit sluit in
– verfraaiing en skoonhou van die dorpsingange
– netjiese sypaadjies en strate waar mense weer gemaklik en veilig kan beweeg
– die plant van bome en blomme wat maklik onderhou kan word
– verf van straatname
– bemarking van Parys as toerismedorp
– sleepkarretjies vir mense wat ‘n lewe uit herwinning maak wat deur besighede geborg kan word in ruil vir advertensie op die waentjie.
– ‘n volhoubare voedselskema om mense waardigheid te gee sodat dit nie nodig is om in sakke te grawe vir kos of in die straat te bedel vir geld nie.
– meer speelparke vir kinders in elke deel van die dorp.
– opleiding vir vrywilligers wat help op brandtonele, en die nodige beskermingsdrag vir dié vrywilligers
– om die bestaande munisipale tuinvullis oorlaaistasie weer in gebruik te stel en uit te brei, met ‘n sogenaamde herwinnings, hergebruik en ‘upcycling’ fasiliteit.
– ‘n vaardigheidsopleidingsentrum

Sommer so met die inry in die dorp as jy op ‘n Saterdag die talle motorfietse in die hoofstraat sien – of die vele voete met rugsak en tekkies wat die strate invaar om egte plattelandse hartlikheid te ervaar, verstaan jy hoekom stedelinge hier hart verloor. Dit is die dorp se kunskarakter, sy oudhede skatte, winkeltjies soos krale ingeryg langs die hoofstraat, en prag natuurskoon langs die Vaalrivieroewer, waarmee die dorp sy besoekers met ope arms omhels.

Dis die glimlagte van sy mense, al geselsend op sypaadjies, en die rustigheid van ‘n volmaak geskepte natuur wat jou die Vredefort Koepel se natuurwonders te voet wil laat verken. Jou huisbier wil laat proe by ‘n tuisbrouery, jou die Vaal se witwater wil laat roei, en op ‘n kabellyn oor Koepel-natuurskoon wil laat gly. Dis hier waar jy wil lyn natmaak, en gaan lafenis soek by een van die dorp se unieke restaurante.
Ja, elke dorp het sy skaafplekke, maar by dit als het Parys karakter en die mooi wat mense raaksien wanneer hulle naweek vir naweek na die Vrystaatse “Paris”stroom.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button