News

Ngwathe steeds in enorme bestuurskrisis

Maande nadat die Ngwathe munisipaliteit in 'n bestuurskrisis gedompel is met die skiellike bedanking van sy munisipale bestuurder, is dié pos asook die senior poste van hoof finansiële beampte en direkteure van gemeenskapsdienste en korporatiewe dienste, steeds nie gevul nie.

Die waarnemende munisipale bestuurder wat deur die provinsie gesekondeer was, se termyn het einde Junie verstryk. So ook die termyne van aanstelling van mnre. N. Monyeke en Z. Majivolo, wat onderskeidelik as die direkteure van Gemeenskapsdienste en Korporatiewe Dienste waargeneem het.

Volgens wet kan aanstellings soos hierdie net vir ‘n maksimum van drie maande gemaak word, tensy ‘n lid van die provinsiale uitvoerende komitee, spesifiek toestemming vir ‘n langer periode gee, wat weer eens nie langer as drie maande mag wees nie.

In die Departement Gemeenskaps- dienste kan die Raad mnre. EC Pule of BA Netshivodza oorweeg vir aanstelling as waarnemend vir drie maande, terwyl in die departement Korporatiewe Dienste mnre CJ Siphiwe beskikbaar is vir oorweging.

‘n Gesekondeerde provinsiale amptenaar neem tans in die pos as hoof finansiële beampte waar.
Volgens VF Plus raadslid Phillip van der Merwe, is daar intussen wel ‘n geskikte kandidaat vir die munisipale bestuurspos gevind, maar moet ‘n bevoegdheidstoets eers afgelê word.

Met vandeesweek se raadsitting is besluit dat Cogta hiermee moet help.

Onder die voorskrifte wat aanstelling van waarnemende direkteure reël, word vereis dat die raad met die munisipale bestuurder moet konsulteer voordat enige sodanige aanstellings gedoen kan word, verduidelik rdl. Van der Mewer, en sal die aanstellings van waarnemende direkteure dus eers kan geskied sodra ‘n nuwe of waarnemende munisipale bestuurder in diens gestel is en gekonsulteer is.
Die beteken dat beide die departemente vir die oomblik leierloos is.

Rdl. Van der Merwe sê die gebrek aan kontinuiteit onder senior bestuurders bring enorme ontwrigting.
“Elke waarnemende bestuurder het telkens sy/haar eie siening van sake en prioriteite verskil ” sê hy.
“Dit is amper asof elke nuwe bestuurder die wiel van vooraf wil ontwerp met eie idees oor hoe die betrokke departement bestuur kan word.

Dit is teenproduktief en daardeur gaan werk wat ‘n voorganger tyd en aandag aan bestee het, soms verlore omdat dit eenvoudig nie deur die opvolger verder gevoer word nie,” sê hy.
Vorige pogings om die vakante poste te vul was in die verlede onsuksesvol, maar is die poste daarna heradverteer en was die spertyd vir aansoeke 23 Junie 2023.

* Met die onlangse tydelike skorsing van die direkteur van tegniese dienste (die enigste oorblywende permanent aangestelde senior bestuurder), was die poste van munisipale bestuurder sowel as al vier die direkteursposte deur waarnemers beklee wat ‘n totaal onaanvaarbare toestand skep, het rdl. Van der Merwe gewaarsku. Die effek van die bestuurskrisis is die afgelope week opnuut gesien met daelange kragonderbrekings en eindelose waterprobleme.

Related Articles

Back to top button