News

Min geld vir Eskom en water, maar enorme uitgawes vir oortyd, verlof en bonusse

So is byvoorbeeld op oortyd tot Mei 2023 reeds 125%, op verlofuitbetalings 302%, op nagdiens toelaes 686%, op langdiensbonusse 268% en op gereedskapstoelaes 226% van die goedgekeurde begroting uitgegee.

Die finansiële krisis waarin die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit tans is word weer bevestig deur finansiële verslae wat op 3 Julie voor ‘n spesiale vergadering van die raad gedien het.

Uit ‘n verslag oor onttrekkings vanuit die munisipale bankrekening vir die periode Julie 2022 tot Mei 2023, blyk dit dat daar in die periode slegs sowat R57 miljoen aan Eskom betaal is.

“Dit terwyl Eskom se rekeninge vir dieselfde periode nagenoeg R220 miljoen beloop het,” sê VF Plus raadslid, Phillip van der Merwe.

Teen 30 Junie 2023 het die totale Eskomskuld reeds tot sowat R1,759 miljard geëskaleer.

Gedurende dieselfde periode is slegs R3,15 miljoen vir grootmaat wateraankope betaal.

Dit blyk uit die verslag dat daar vir die genoemde periode geen betalings gedurende Augustus 2022 tot Mei 2023 geskied het nie.

Telefoonrekeninge is ook nie gedurende die periode van April tot Mei 2023 betaal nie.
“Die inligting het as ‘n absolute skok gekom nadat ons vir maande nie van behoorlike verslae voorsien was is nie,” sê raadslid Van der Merwe verder.

“Daar heers tans enorme probleme binne die munisipaliteit se topbestuur weens vakante senior bestuurs-poste en skorsings wat meebring dat die komitees wat oorsig moet hou, of nie sit nie, of tydens die sittings wat wel geskied, nie van volledige inligting en verslae soos wat wetlik vereis word, voorsien word nie.”

Uit ‘n ander verslag wat voor dieselfde raadsvergadering gedien het, blyk dit dat daar op verskeie begrotingsposte wat hoofsaaklik met personeeluitgawes verband hou, drasties oorspandeer is.

So is byvoorbeeld op oortyd tot Mei 2023 reeds 125%, op verlofuitbetalings 302%, op nagdiens toelaes 686%, op langdiensbonusse 268% en op gereedskapstoelaes 226% van die goedgekeurde begroting uitgegee. Geen verduidelikings oor die afwykings is in die verslae vervat nie en dit is op aandrang van rdl. Van der Merwe verwys na die Finansiële Komitee vir ondersoek en optrede.

Gesien teen die agtergrond dat die munisipaliteit slegs daarin slaag om ongeveer 53% van sy begrote inkomste te vorder, is dit verstaanbaar dat infrastruktuur nie in stand gehou kan word nie en oral oor in duie stort.

“Die raad het wel ‘n omkeerplan en inkomsteverhalingsplan goedgekeur by sy begrotingsvergadering in Mei, maar die uitvoering daarvan berus by die amptenary, en raadslede sal uit alle oorde druk op amptenary moet plaas om toe te sien dat die planne wel ten uitvoer gebring word.

Die Vryheidsfront Plus is onomwonde daartoe verbind” het rdl. Van der Merwe gesê.
Hy het ook bygevoeg dat nuwe ooreenkomste vir betaling nou onder meer met Eskom en Rand Water gesluit sal moet word.

Related Articles

Back to top button