News

Noodkragopwekker en sekuriteit by suiweringsaanleg moet dringend aandag kry, sê minister

AfriForum het na afloop van die vergadering gesê die gespreksgeleentheid met die minister en betrokke partye is verwelkom, maar dat dit jammer is dat nie meer gemeenskapsorganisasies uit al die gemeenskappe na die vergadering genooi is nie.  

Die minister van waterwese en sanitasie, Senzo Mchunu, het verlede week tydens ‘n vergadering in Parys  aangedring dat die munisipaiteit dadelik ‘n noodkragopwekker by sy watersuiweringsaanleg moet kry om die waterwerke ook tydens kragonderbrekings te laat funksioneer. Sekuriteit by die watersuiweringsaanleg moet ook dringend opgeskerp word.

Die minister het die vergadering gelei waar ‘n intervensieverslag met oplossings en tydlyne daaraan gekoppel, om die dorp se knellende watervoorsieningsprobleme indringend aan te spreek, voorgelê is. 

Die burgerregte organisasie, AfriForum, is ook na die vergadering genooi, waar ’n afvaardiging van  Departement van Water en Sanitasie (DWS) en die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit onder leiding van die Ngwathe uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer-Mthombeni, teenwoordig was.

AfriForum wou egter nie by die vergadering homself verbind tot die minister se versoek om sy hofaansoek oor behoorlike watervoorsiening aan die gemeenskap van Parys, en herstel van infrastruktuur wat eersdaags in die Hooggeregshof in Bloemfontein gehoor sal word, te heroorweeg nie.

Die minister het by die vergadering aan elke party geleentheid gegee om hulle betrokkenheid by die dorp se  waterkwessie voor te lê.

AfriForum, verteenwoordig deur Jaco Grobbelaar (hoof van die sentraalstreek), Alta Pretorius (distrikskoördineerder vir die Mooirivier), en Schalk Burger (voorsitter van die AfriForum Parys-tak), het in hul voorlegging daarop gewys dat die organisasie reeds die afgelope drie jaar by die dorp se waterkrisis betrokke is.

In September 2021 is ’n ooreenkoms tussen Ngwathe en AfriForum onderteken waarin ooreengekom is dat die organisasie spesialisverslae sou kry oor die dorp se waterwerke en die rioolwerke. Die verslae is, met kosteberekening ingesluit, onmiddellik aan die munisipaliteit gelewer.

In die lig van beurtkrag en die ekstra kragonderbrekings wat Parys daagliks ervaar, is die dringendheid van ’n kragopwekker ook onderstreep.

AfriForum sê hy is egter bekommerd dat ten spyte van die verslae, niks die afgelope drie van die aanbevelings in die verslae gekom het nie.

Grobbelaar het die agterrond oor AfriForum se hofsake teen Ngwathe oor die waterkwessie gegee, en het Burger beswaar gemaak teen die boor van boorgate as verligting vir die waterkrisis.

Hy sê nege droë gate is reeds geboor teen ’n koste van R500 000, wat weer bewys dat die grondformasie van so aard is dat genoegsame water nie hier gekry sal word nie.

Hy het verder gesê dat die direkte pyplyn wat die munisipaliteit besig is om te lê  na die Ghana-woonbuurt in Tumahole, nie aan die nodige vereistes voldoen nie, en  nie behoorlik sal kan funksioneer nie.

Die munisipaliteit het op sy beurt die watersituasie en die uitdagings rondom watervoorsiening uitgelig.

Risimati Mathye, die adjunk-direkteur-generaal van die DWS, het daarna die intervensieverslag voorgelê waarin oplossings met tydlyne aangedui word.

Die minister het in sy samevatting naas die kwessies van die kragopwekker en sekuriteit wat hy aangespreek het, ook gesê die sleutelposte van die munisipale bestuurder, finansiële hoof en direkteure moet so gou moontlik met bevoegde mense gevul word.

Op AfriForum se vraag wie verantwoordelik gehou sal word as die beloftes wat gemaak is, nie nagekom word nie, het die minister homself en die burgemeester aangewys as die verantwoordelike persone. Hy het ook die burgemeester opdrag gegee dat ’n forum vir wateraangeleenthede in Parys tot stand moet kom waarop belanghebbendes verteenwoordiging moet hê.

AfriForum het weer sy bereidwilligheid om te help om die waterkwessie op te los, onderstreep, maar ook gesê dat die organisasie wil verseker dat die munisipaliteit en die minister by hul beloftes hou.

AfriForum het na afloop van die vergadering gesê die gespreksgeleentheid met die minister en betrokke partye is verwelkom, maar dat dit jammer is dat nie meer gemeenskapsorganisasies uit al die gemeenskappe na die vergadering genooi is nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button