News

Die brug is weer oop!!

Die enorme taak wat hier verrig is om die vloedskade te herstel, sal ook tot voordeel strek van Parys se toerismebedryf met die laagwaterbrug wat 'n groot trekpleister vir menige besoeker aan die dorp is.

Toe die Vaalrivier se vloedwater in Februarie vanjaar ‘n pad van verwoesting agtergelaat het by die Parys Golf & Country Estate, moes planne vinnig gemaak word om die enorme skade herstel. Nie net was daar skade aan die laagwaterbrug en die aanloop weerskante van die brug nie, maar was die landgoed vir nege dae sonder krag, en moes ‘n nuwe oorhoofse kraglyn gebou word.

Ernstige skade is aan die water- en rioolnetwerk aangerig, en het ook die gholfbaan skade gehad met al die outomatiese beproeiing wat oorstroom het.

Ook by die park by die laagwaterbrug-ingang na die landgoed was groot skade.

Vandag, Saterdag 24 Junie –  vier maande nadat die rivier sy hoogste vlak sedert 1975 bereik het, is die laagwaterbrug na Gholfeiland, een van die toegangsroetes na die Parys Golf & Country Estate, uiteindelik oopgestel vir verkeer, en sal huiseienaars en mense wat van die sport- en restaurantfasiliteite op die landgoed gebruik wil maak, nie meer nodig hê om van die ingangshek langs die R59 gebruik te maak nie.

Mike en Albert wat na maande se harde werk saam met die ‘bomb squad’ uiteindelik vandag die laagwaterbrug kon open vir verkeer. 

Die bykans onmoontlike wat in die afgelope maande reggekry is, is vandag gevier met ‘n braai by die aanloop na die brug waarna huiseienaars van die landgoed genooi was. Na die lintknip-seremonie was Mike Fourie, uitvoerende voorsitter van die Parys Golf & Country Estate, en Albert Swanepoel die eerste gewees om oor die brug te kon ry.

Met ‘n deel van die rivieroewer wat weggespoel het, moes Siggs Konstruksie die laagwaterbrug met 12,5m verleng, en moes ook die teer en plaveisel by die aanloop weerskante van die brug herstel word.  Honderd en twintig ton sement en 300 ton se grond was nodig, en baie ure se sweet.

‘n Enorme taak wat vroeër voltooi is as wat aanvanklik bereken is.

Saam met die tragedie was daar goedheid:

Mike en Albert het dit op hul skouers geneem  om saam met Roelof Oelofse en Lukus Oelofse (senior voorman) en ‘n handjievol mense wat letterlik dag en nag gewerk het, reg te maak en oplossings te kry vir elke uitdaging.

Bykans al die herstelwerk is nou voltooi met die finale afronding wat teen einde September klaar behoort te wees.

Maar die bykans onmoontlike wat in die afgelope maande gedoen is, het ook tydelike werk geskep vir 15 mense vir drie en ‘n half maande.

Naas die laagwaterbrug en nog ‘n brug op die landgoed wat herstel is, is

  • rehabilitasie gedoen by die gedeeltes van die rivieroewer wat weggespoel het
  • beskadigde plaveisel en teer herstel
  • die meeste van die beskadigde pyplyne reeds herstel.
  •  12 van 50 Populus Simoni Alba bome is reeds  in die park by die laagwaterbrug-ingang na die landgoed geplant en sal die park eersdaags weer ‘n lushof wees.
  • altesaam 1 250 vierkante meter se kitsgras is geplant.
  • met die verlenging van die brug is daar nou vyf ekstra beton deurlope onder die brug.
  • Bome wat ‘n blokkasie by die brug kan veroorsaak sal uitgehaal word.
  • Daar sal ook gehelp word met rehabilitasie van ‘n gedeelte van die Esplenade waar skade deur die vloedwater aangerig is.

Die einde is nog nie in sig nie en moet werk aan die hoofrioollyn nog voltooi word, maar die grootste werk is gedoen.

In die maande wat verby was, sê Mike, was die gewillige hande wat gewerk het, altyd bereid om die ekstra myl te loop.

Daar is dankbaarheid teenoor die huiseienaars wat bygedra het om hierdie enorme herstelwerk te kon doen, en teenoor die Ngwathe munisipaliteit wat gehelp het met die bou van die nuwe oorhoofse kraglyn nadat die landgoed  vir nege dae sonder krag was, asook die landgoed se instandhoudingspersoneel.

Dit was ure, dae en nagte wat Albert en sy span gewerk het en moes kyk dat alles reg gedoen word. Mense het ongerief moes verduur, geduld was soms min  en die uitdagings en kostes baie, maar een ding is seker – Parys se toerismebedryf sal  baat by dit wat hier vermag is met die laagwaterbrug wat een van die dorp se groot toerisme trekpleisters is.

Vir baie is die laagwaterbrug oor die Vaalrivier ‘n groot trekpleister

 

 

Related Articles

Back to top button