News

Sit af as jou krag af is!

Wanneer jy vergeet van 'n elektriese toestel wat aangeskakel was toe krag onderbreek is, kan dit groot skade veroorsaak.

‘n Haardroër wat tydens beurtkrag aangeskakel was by ‘n huis in Parys, het so byna ‘n tragedie veroorsaak toe dit vir ure aaneen aan was nadat  kragtoevoer weer herstel is. Met niemand wat tuis was om die haardroër af te skakel nie, het dié haardroër ‘n gat in ‘n mandjie wat by die haardroër was, gebrand.

Kan jy jou die tragedie indink as dit ‘n brand in die huis sou veroorsaak het?

Maar dit is ‘n fout wat baie van ons maak.

Met beurtkrag en onvoorsiene kragonderbrekings wat al meer ‘n daaglikse werklikheid vir mense geword het, gebeur dit dikwels dat elektriese toestelle wat aangeskakel was tydens beurtkrag, ‘n brand veroorsaak sodra die kragtoevoer herstel word.

Koerantopskrifte vertel gereeld van dié tragedies, veral waar mense stoofplate of ander toestelle met ‘n hitte element aanlos. Wanneer daar byvoorbeeld ‘n pot olie of kos op ‘n aangeskakelde stoofplaat gelos word, kan dit fataal wees as die krag aankom, en jy vergeet het van die stoofplaat.

Elektriese toestelle wat aangelos word tydens beurtkrag of onvoorsiene kragonderbrekings kan groot skade veroorsaak. Argieffoto

Volgens Wynand Nel van WeCare het vrywilligers van dié buurtwaggroep sedert die winter van 2022 tot nou hulp verleen by nagenoeg 14 gevalle waar brande op dié manier ontstaan het. Hoewel meeste van die brande gou onder beheer gebring kon word, kan die skade voorkom word as mense voor en tydens beurtkrag seker maak hulle skakel alle elektriese toestelle af wat moontlik ‘n risiko kan inhou sou kragtoevoer weer herstel word.

Kyk veral dat jou oond, stoofplate, elektriese kombers, verwarmers, braaiers, roosters, strykysters, en  haarstilleer toestelle afgeskakel en uitgeprop is.

Gastoestelle behoort ook gereeld nagegaan te word, waarsku Wynand, Veral gastoestelle wat vir kookdoeleindes gebruik word, se seëls en pype behoort gereeld nagegaan te word wanneer jy die gas hervul.

Laat ook jou kragopwekker gereeld nagaan en maak seker daar is ventilasie waar jou kragopwekker staan sodat hitte nie opbou in ‘n toe vertrek nie.

Wanneer ‘n brand by jou gasbottel ontstaan waarsku Wynand dat mense nie moet probeer om die gasbottel te hanteer nie. Die beste raad is om dadelik ‘n nat kombers of handdoek oor te gooi en dan die gastoevoer toe te draai.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button