News

Parys – ons het dit gedoen!!

Sommer so met die inry in die dorp as jy op ’n Saterdag die talle motorfietse in die hoofstraat sien – of die vele voete met rugsak en tekkies wat die strate invaar om egte plattelandse hartlikheid te ervaar, verstaan jy hoekom stedelinge hier in die Vrystaatse dorpie, Parys, hart verloor.

Parys is die Vrystaatse finalis in vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie, en sal daar sodra al die finaliste aangekondig is,  meegeding word om vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar-titel.

Vandag (Donderdag 8 Junie) en môre 9 Junie, is die Kwêla-span in Parys  om ‘n insetsel oor wat die dorp sy besoekers bied, te verfilm.  Die insetsel  kan op 2 Julie op Kwêla gesien word.

Parysenaars het met die Kwêla-span se besoek hier hulle met ope arms verwelkom met die goedheid van mense wat so eie is aan dié dorpie aan die soom van die Vaalrivier. Van die lekkerste koffie tot tuisgebakte brood, fynproewer geregte, en hope avontuur is op die spyskaart vir die span wat onder meer oor die twee dae by dorp se vliegveld, Udolpho met sy geskiedkundige ossewaens, Casa Cara, Dark Choclat Café, Angelos Pane Vino, Werner Dey Couture, die dorp se kanoklub, die Parys Golf & Country Estate, O’s restaurant, Stir Coffee, die dorp se skole, Egweni River Lodge, Koedoeslaagte, La Vie en Rose, Kiki’s, Spices on Breë en River Rock ‘n draai sal maak.

Die Kwêla-span kuier in Parys.

Vir aanbieder Johnny Davids was dit ‘n eerste besoek aan die dorp en vertel hy dat die vriendelikheid en hartlikheid van die dorp se mense hom beïndruk het.

Hiervan kan menige besoeker ook getuig. Daar is immers min dorpe wat so onder jou vel kom lê soos Parys – die Vrystaatse afdruk van sy Franse naamgenoot wat geensins afsteek as dit kom by die romantiek en unieke karakter van die dorp nie.

Dit is die dorp se kunskarakter, sy oudhede skatte, winkeltjies soos krale ingeryg langs die hoofstraat, en prag natuurskoon langs die Vaalrivieroewer, waarmee die dorp sy besoekers met ope arms omhels.

Dis die glimlagte van sy mense, al geselsend op sypaadjies en die rustigheid van ’n volmaak geskepte natuur wat jou die Vredefort Koepel se natuurwonders te voet wil laat verken. Jou huisbier wil laat proe by ’n tuisbrouery. Jou die Vaal se witwater wil laat roei, en op ’n kabellyn oor Koepel-natuurskoon wil laat gly.

Dis hier waar jy wil lyn natmaak, en gaan lafenis soek by een van die dorp se unieke restaurante.

Toe daar vir die Vrystaatse semi-finaliste – Parys, Sasolburg en Clarens, vroeër vanjaar gestem moes word, was dit Parys se karakter en sy mense wat besoekers naweek vir naweek na die Vrystaatse “Paris”laat stroom, wat mense vir dié dorp laat stem het.

Wanneer al nege finalis-dorpe op Kwêla gewys en aangekondig is, sal die publiek van 18:00 op 16 Julie tot 12:00 die middag, 21 Julie, vir die wendorp kan stem.

Die Wendorp word op 30 Julie 2023 op Kwêla aangekondig.

Vanjaar se wendorp ontvang ‘n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde Die dorp kan boonop self besluit wat die fokus moet wees van die 45 sekonde advertensie van die dorp wat gedurende kykNet se advertensietyd uitgesaai sal word.

Dan is daar ook die groot makietie vir die wendorp, en R1 miljoen in kontant om die dorp te verbeter en te verfraai. Glad nie te versmaai nie.

En nee – die R1 miljoen wat die wendorp ontvang gaan nie na ‘n munisipaliteit nie, en moes ‘n besigheidsplan ingedien word van hoe die geld spandeer sal word sou die dorp wen, wat dan deur Lottoland gemonitor sal word om die vordering dop te hou.

In Parys is die Dorp van die Jaar veldtog deur MooiParys gedryf.

Maar hoekom ‘n Dorp van die Jaar kompetisie?

Die kompetisie gaan daaroor om die mooi en lekker in dorpe  te wys. Ja, elke dorp het sy skaafplekke – té min water, té veel gate, ontoereikende munisipale dienste en wat meer, maar dit is nie waarna gekyk word nie.

Dit gaan daaroor om mense weer trots te laat voel op hul dorpe. Inwoners weer te laat ontdek wat hul tuisdorpe hul kan bied, en die ongelooflike toerisme-potensiaal van ons land se dorpe aan besoekers te wys.

Parys is in 2011, 2018, 2019 en 2021 al aangewys as ‘n semi-finalis vir die Vrystaat-streek, en een keer tevore as streekfinalis.

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button