News

Weg met die gate en slordige sypaadjie gras – hier word reggemaak

Ngwathe Gemeenskapsforum met verskeie organisasies en vrywilligers het vandag hande gevat met Mooi Parys om reg te ruk en mooi te maak in Parys

Vandag was Parys se strate besig met al wat mark, basaar en lugskou was, maar in die hoofstraat van Parys en soos jy aan Sasolburg en Vredefort-kant die dorp binnegekom het, het nagenoeg 40 vrywilligers hard gewerk. Mooi gemaak, reggemaak, want vir hierdie Parysenaars is hul dorp hul trots.

Die Ngwathe Gemeenskapsforum het saam met vrywilligers hande gevat met Mooi Parys om seker te maak die dorp se hoofstraat is skoon, slaggate word reggemaak en selfs ‘n stopstraat wat vir lank al skitter in sy afwesigheid op die hoek van Van Coller- en Schilbachstraat is danksy Marie la Cock en AfriForum weer op sy plek gesit.

Saam met die gewillige hande van Mooi Parys wat vir baie maande al week na week die dorp netjies maak, het AfriForum en ander gehelp gras sny, sypaadjies en vore skoonmaak, vullis is opgetel.

Spesiale dank ook aan Knipoog Tuindienste wat met hul toerusting en werkers ook hand bygesit het.

Hierdie groep mense maak ‘n verskil. Kyk om jou en jy sal sien hoe stadig maar seker, reggemaak word.

Die week wat kom sal jy Mooi Parys weer in Parys se strate aan die werk sien. En as daar weer ‘n gemeenskapsaksie soos vandag is om reg te ruk – kom sit hand by, want al wat nodig is om ‘n verskil te maak is gewillige hande en ‘n positiewe gesindheid.

Dankie vir elkeen wat vandag gehelp het.

Related Articles

Back to top button