News

Cholera: Waterwese sê oor watergehalte in Gauteng en Ngwathe

Waterrade en munisipaliteite word verplig om gereelde toetse te doen op water wat voorsien word, om te verseker dat dit aan  SANS 241 standaarde voldoen wat deur die SA Buro van Standaarde gestel word

Departement Waterwese en Sanitasie het na vrae van de publiek oor die kwaliteit en veiligheid van drinkwater in Suid-Afrika te midde van die uitbreek van cholera in Hammanskraal (Tshwane), en die Vrystaatse dorpe Vredefort en Parys in die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gesê dat dit steeds nie seker is wat die bron van die Cholera uitbrake was nie.

Waterrade en munisipaliteite word verplig om gereelde toetse te doen op water wat voorsien word, om te verseker dat dit aan  SANS 241 standaarde voldoen wat deur die SA Buro van Standaarde gestel word, sê die departement.  Toetse wat gedoen is op die water wat deur Rand Water, Magalies Water en die Stad van Tshwane voorsien word, het getoon dat die water wel geskik is vir menslike gebruik en dat Gauteng-inwoners verseker kan wees dat drinkwater uit hul krane veilig is, solank as wat munisipaliteite kan toon dat die water wat hul voorsien aan die vereiste standaarde voldoen, het die departement gesê.

Ook in Ngwathe se geval sê die departement dat die behandelde kraanwater in die Ngwathe munisipale gebied, voldoen aan die SANS 241 standaarde.

Die departement sê sy tegniese spanne, maar ook spanne van die provinsiale en nasionale departemente van Gesondheid, en die betrokke plaaslike munisipaliteite, doen toetse by waterverspreidingspunte en by watersuiweringsaanlegte in die gebiede wat geraak is, om te verseker dat die water wat voorsien word aan gemeenskappe veilig is.

Die departement het mense daarop gewys dat Cholera nie net deur besoedelde water versprei word nie, maar ook kan versprei onder meer weens swak higiëne, of besmette voedsel.

Hoewel die presiese oorsprong van die Cholera uitbraak nog nie bepaal is nie, sê die departement dat die uitbraak in Hammanskraal waarskynlik verband hou met die besoedeling van waterbronne in die omgewing van die Rooiwal rioolsuiweringsaanleg stroomop van Hammanskraal, wat vir jare nie onderou is nie, en nie voldoende kapasiteit het om die hoeveelheid rioolwater wat inkom by die aanleg, te kan hanteer nie.

In sy verklaring sê die departement dat die aanleg die Apiesrivier besoedel wat weer in die Leeukraal Dam invloei  waaruit die Temba watersuiweringsaanleg sy water onttrek. Hoewel die Temba-aanleg die water sodanig moet behandel dat dit geskik is vir menslike gebruik is Leeukraal Dam so besoedel dat die Temba-aanleg nie die water kan behandel dat dit voldoen aan die vereiste standaard vir drinkwater nie, sê die departement.

Die departement sê die uitslag van watertoetse by die Temba-aanleg was egter negatief vir die cholera bakterie, en sê dat die water wel vir persoonlike higiëne gebruik kan word, asook om skottelgoed en wasgoed mee te was. Watertenkers voorsien inwoners in die omgewing van die Temba-aanleg van drinkwater.

Dit is genoem dat die Temba-aanleg slegs water voorsien  aan die gemeenskap van Hammanskraal.

Wat wel ernstige kommer wek is dat die toestand van talle munisipale rioolverwerkingsaanlegte  drasties agteruitgaan, en dat  baie munisipaliteite skuldig is aan die besoedeling van riviere en damme waaruit munisipaliteite en waterrade weer water moet onttrek om te suiwer vir drinkwater vir gemeenskappe.

Die bevinding is al in 2022 gemaak met die Groen Druppel verslag wat deur Departement Waterwese en Sanitasie uitgereik is, Dit is ook verlede week weer gesien by die Ngwathe munisipaliteit waar rioolwater  in die Vaalrivier ingeloop het.

Nadat AfriForum verlede week bekendgemaak het dat ‘n watermonster wat stroomaf van die mangat in Parys geneem is en waar rioolwater in die Vaalrivier geloop het, positief getoets het vir Cholera, het die departement gesê dat waterkwaliteit toetse by alle drinkwaterverspreidingspunte in die dorp gedoen is, en dat die behandelde kraanwater wat deur die munisipaliteit voorsien word, wel aan die vereiste standaarde voldoen en daarom geskik is vir gebruik.

Daar is gesê dat die punt waar AfriForum die monster geneem het, naby aan die mangat is waar die rioolwater oorgeloop het, en dat dit daarom te wagte is dat die monster positief sou toets vir Cholera. Die departement sê hy het die storting ondersoek en is in die proses om die munisipaliteit opdrag te gee om toe te sien dat die storting gestaak word.

Departement Waterwese sê munisipaliteite word volgens wet daartoe verplig om gemeenskappe van water te voorsien wat wel aan die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde se vereistes voldoen.  Afgesien van waterrade en munisipaliteite se watertoetse doen die departement as nasionale reguleerder van water ook binne die mandaat van die nasionale waterwet en water dienste wet periodieke moniteringstoetse op die gehalte van drinkwater wat voorsien word.

Sou daar gevind word dat nie aan die standaarde voldoen word nie, sal die betrokke munisipaliteite geadviseer word om inwoners te waarsku om nie die water te drink alvorens dit nie gekook of behandel is nie.

Daar is ook weer gesê riviere, damme en strome bevat onbehandelde water wat nie geskik is vir menslike gebruik nie en dat mense nie die water as drinkwater moet gebruik tensy dit ontmet is nie.

Die finale Blou Druppel verslag sal in Julie deur die departement uitgereik word.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button