News

Departement waterwese ondersoek klagte na rioolstorting in Vaalrivier

“Dit is aan die DWS uitgewys dat daar onder geen omstandighede riool in die rivier mag beland nie. Ons het bevind dat die pompe se kapasiteit nie voldoende is nie en daarom funksioneer dit nie reg nie,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.

 Verteenwoordigers van departement waterwese en sanitasie het die afgelope week Parys besoek om ondersoek in te stel na klagte oor rioolstorting in die Vaalrivier by Parys.

Die voorsitter van die AfriForum-tak in Parys het op 24 Mei die gemeenskapsgroep gelei om saam met die Departement van Water en Sanitasie (DWS) die rioollekkasies in die Vaalrivier te inspekteer. Die groep het lede van AfriForum, Save Ngwathe, Vrystaat Landbou en Kanana Forum ingesluit. Vier lede van die DWS het ondersoek ingestel nadat ’n klagte ontvang is oor rioolstorting in die Vaalrivier.

Die klag is spesifiek gerig op die gedeelte by die Sandgat in Rotarylaan waar die hooflyn gelê is net voordat dit by die rioolwerke ingaan. Die laaste mangat, wat 10 m van die Vaalrivier is, oorstroom al vir dae lank en die rou riool stroom direk in die rivier in, het Afriforum vandag, Donderdag 25 Mei, in ‘n verklaring gesê.

Die burgerregte organisasie sê in sy verklaring die pomp wat veronderstel is om riool na die aanleg te vervoer, is te klein en daar is net een pomp wat werk in plaas van drie. Beurtkrag word as hoofoorsaak van die probleem geblameer, word gesê in die verklaring.

Die Tumahole-woonbuurt is ook deur die groep besoek waar gevind is dat die eerste pomp droog was, en die tweede buite werking met riool wat uitstroom, sê AfriForum, en voeg by dat die wag bevestig het dat die pomp uitgebrand het en nie werk nie.

Die verteenwoordiger van Kanana Forum het bevestig dat die probleem reeds vir meer as drie jaar bestaan. Op lugfoto’s is dit ook duidelik sigbaar dat die water al vir baie lank só vloei en dan later in die Oudewerfspruit beland wat gevolglik weer in die Vaalrivier invloei – net bokant die waterwerke waar die dorp se drinkwater onttrek word. Die derde pomp was ook droog en daar is geen sigbare riool nie, word in die AfriForum verklaring gesê.

Daarna is besoek afgelê by die R59 net buite die dorp waar daar ook riool uit ’n mangat vloei. Hierdie riool vloei ook direk in die Vaalrivier in net bo die punt waar die dorp se water onttrek word.

Volgens AfriForum het DWS bevestig dat hulle ’n verslag gaan opstel en die lede van die inspeksiegroep van hul bevindings in kennis sal stel.

“Dit is aan die DWS uitgewys dat daar onder geen omstandighede riool in die rivier mag beland nie. Ons het bevind dat die pompe se kapasiteit nie voldoende is nie en daarom funksioneer dit nie reg nie,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier het die hoop uitgespreek dat die DWS en alle betrokkenes die erns van hierdie haglike situasie besef en dadelik sal werk maak daarvan. Dit is verblydend dat al die gemeenskapsorganisasies nou hande vat en saamstaan teen die verval, het sy bygevoeg.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button